Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Spesiale eenhede gaan moord en roof pak

Toegewyde spesialiseenhede van die polisie gaan landwyd in misdaadgeteisterde gebiede ontplooi word om ernstige misdade soos moord, wat politieke sluipmoorde insluit, sowel as gewapende rooftogte en taxigeweld doeltreffender te beveg.

Bendeleiers, dwelmsmokkelaars en diegene met onwettige vuurwapens in die Wes-Kaap sal dié ingrypings heel eerste voel omdat sowat 300 ekstra polisiebeamptes van oor die land heen in die provinsie ontplooi sal word.

Bheki CeleFoto: DEAAN VIVIER

Bheki Cele, minister van polisie, het dit Dinsdag aangekondig toe hy sy begrotingsrede in die parlement gelewer het. Sowat R91 miljard is vir die 2018-2019-boekjaar aan die polisie bewillig.

Lt.genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het ná die begrotingsrede bygevoeg dat plaasaanvalle en -moorde voortaan ook beter bestry sal word omdat landelike polisie-infrastruktuur soos mobiele en satellietpolisiekantore as deel van die landelike veiligheidstrategie ontwikkel sal word.

Meer polisiebeamptes sal volgens Sitole ook aan landelike polisiekantore beskikbaar gestel word, terwyl sulke polisiekantore opgegradeer sal word.

Cele het in die debat oor sy begrotingsrede aan dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, aangedui dat hy bereid is om met daardie party te vergader oor plaasaanvalle.

Die polisie beplan ook om van sy topoffisiere, tot op die rang van generaal-majoor, van die hoofkantoor na 30 stedelike polisiekantore landwyd te verskuif waar misdaadvlakke die ergste is.

Oor die spesialiseenhede het Cele gesê die polisie sal die vermoëns van sy taktiese reaksiespan en opsporingspanne met hulpbronne en vaardigheidsontwikkeling verbeter.

“Ons sal 154 TRS-lede oplei van wie 120 in Khayelitsha, Nyanga en Mitchells Plain (in Kaapstad) en 34 in Engcobo (in die Oos-Kaap) ontplooi sal word.

“Ons het vanoggend (Dinsdagoggend) ook die nasionale bende-ingrypingsoperasie genaamd Operasie Thunder, wat uit lede van gespesialiseerde eenhede bestaan, bekend gestel om die euwel van bendegeweld te hanteer.”

Al nege provinsies het nou spesiale ondersoekspanne wat spesifiek op triomisdade fokus.
Bheki Cele

Volgens Cele sal dié stabiliseringsoperasie vir drie maande op die Kaapse Vlakte en townships in Kaapstad van krag wees om veral promimente bendeleiers en dwelmhandelaars aan te keer, asook om op die oorvloed onwettige vuurwapens in daardie gebiede beslag te lê.

Hy het bygevoeg dat soortgelyke spesialiseenhede binne die volgende weke ook landwyd in gebiede met hoë misdaadvlakke ontplooi sal word in taktiese intelligensiegedrewe operasies wat daarop gemik sal wees om moord, transito- en gewapende rooftogte, taxigeweld en politieke sluipmoorde te beveg.

“Ons wil die mense van Suid-Afrika verseker dat ons in die proses is om te reageer op die voortdurende politieke sluipmoorde in KwaZulu-Natal nadat pres. Cyril Ramaphosa (Maandag) ’n interministeriële taakspan aangestel het om dit te hanteer. Ons sal geen steen onaangeroer laat nie.”

Cele het gesê die taakspan sal Maandag in KwaZulu-Natal wees om die situasie te assesseer.

“In Gauteng is ons nou ook gereed om die senutergende transitorooftogte daar te pak.”

Volgens Cele het die toename in die trio-misdade (motorkapings, huis- en sakerooftogte) die polisie genoop om voortaan ook ’n aggressiewe benadering daaroor in te neem.

’n Nasionale triomisdaad-taakspan is gestig wat ’n nasionale triomisdaad-aksieplan ontwikkel het om sulke misdade in die 20 polisiegebiede waar dit die meeste voorkom, te beveg.

Daar sal voortaan nou met die sekuriteits-, die bank- en die vervoersektor saamgewerk word, terwyl ekstra hulpbronne soos reaksievoertuie en geld toegeken sal word aan die 20 gebiede waar dié misdade die meeste voorkom.

“Al nege provinsies het nou spesiale ondersoekspanne wat spesifiek op triomisdade fokus,” het Cele gesê.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Moord  |  Spesialiseenhede  |  Gewapende Roof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.