Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Spesialis-span kyk na Nuwejaar-skietery in Jhb

’n Gespesialiseerde span polisiespeurders is aangestel om die skietvoorvalle op Nuwejaarsdag in Melville en Newtown in Johannesburg te ondersoek.

Die span bestaan uit onder meer lede van die narkotika-eenheid, die eenheid teen taxigeweld en die teenkorrupsie-eenheid, sê brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder.

Dit het “baie bekwame en ervare ondersoekers” wie se ondersoeke al tot skuldigbevindings in ernstige en geweldsmisdade gelei het, het Peters aan News24 gesê.

Binne ’n uur nadat die nuwe jaar aangebreek het, het ’n swart BMW-sportnutsvoertuig stadig verby Poppy’s-restaurant in Melville gery en op klante losgebrand. Twee vroue is op die toneel dood en ses ander mense is beseer.

Kort daarna het ’n voertuig oor die M2-brug in Newtown gery en op die Mary Fitzgerald-plein losgebrand. 11 mense is hier beseer.

Die motief vir albei aanvalle is nog onbekend en niemand is al in verband daarmee in hegtenis geneem nie.

Twee dae later het Panyaza Lesufi, Gauteng se waarnemende premier, gesê die polisie is na aan ’n deurbraak in die Melville-voorval. Hy het onthul dat die BMW se nommerplate gekloon was. Volgens hom is die ondersoek na die voorval op die Mary Fitzgerald-plein moeiliker weens ’n gebrek aan bewyse, soos getuies en kringtelevisie-beeldmateriaal.

Die polisie het verlede week ’n beroep op die publiek gedoen om te help om die oortreders van albei skietvoorvalle op te spoor. ’n Beloning is aangebied.

Peters sê die polisie “wil nie kommentaar lewer op wat LUR Lesufi in sy hoedanigheid as waarnemende premier gesê het nie”. Sy sê ook die beloning moenie beskou word as ’n erkenning dat die polisie in ’n doodloopstraat is met die ondersoek nie.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale kommissaris, het opdrag gegee dat “geen steen onaangeroer gelaat moet word” om die skuldiges op te spoor nie. “ ’n Beloning is een van die talle opsies tot die ondersoekers se beskikking . . . (dit is) ’n noodsaaklike opsie om ’n waterdigte saak te bou wat uiteindelik op die hofrol geplaas kan word en tot ’n skuldigbevinding kan lei.

“Ons het al voorheen erken een van die uitdagings in die Mary Fitzgerald-plein-ondersoek is die afwesigheid van getuies. Gevolglik is ’n beroep op die publiek gedoen vir inligting in ruil vir ’n kontantbeloning. Dit is om as aansporing te dien vir diegene met kennis (van die voorval), maar wat om watter rede ook al huiwerig is om na vore te kom,” sê Peters.

Peters sê die polisie wil nie die ondersoekbeamptes onder druk plaas om spoedig mense in hegtenis te neem “om die media te paai” nie. Sy het weer gevra dat die polisie die ruimte gegun word om sy werk te doen sonder dat die ondersoekers “oor elke liewe aspek van die ondersoek aan die media verslag hoef te doen”.


Meer oor:  Melville  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.