Gespesialiseerde polisie-eenhede gaan voortaan gebruik word om plaasaanvalle en -moorde landwyd te probeer bekamp.
Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Vrydagoggend die aankondiging aan die portefeuljekomitee oor polisie in die parlement gedoen kort voordat hy en Bheki Cele, minister van polisie, die jongste nasionale misdaadstatistieke bekend sou stel.
Sitole het in sy voorlegging aan die komitee gesê dat die jongste statistieke sal wys dat daar die afgelope boekjaar oor die algemeen ’n 2,7%-afname in die 17 gemeenskapsverwante misdade was.
Oor plaasaanvalle en -moorde wat die land teister, het Sitole aan LP’s gesê dat die polisie nou bykomende aandag daaraan sal skenk en dat hy kan bevestig dat die polisie sy landelike veiligsheidsplan geaktiveer het.
“Ons versterk ook ons gespesialiseerde eenhede in hierdie gebied. Ek het onlangs ses gespesialiseerde eenhede afgeteken om daarmee te help. Ons het nou ook toegewyde ondersoeke wat daarop sal fokus.
“Ons mobiliseer ook die landbou-unies en landelike gemeenskappe en ons sal voortaan ook sektorpolisiering en buurtwagte in landelike gebiede aktiveer.”
Sitole sê dat die misdade wat steeds hoog in Suid-Afrika is, die tipe misdade is wat die ergste vrees by die publiek inboesem en wat beleggers uit die land wegdryf.
“Motorkapings is kommerwekkend. Dit is georganiseerde misdaad en daarom wil ons op die sindikate fokus wat daarvoor verantwoordelik is. Ons wil ook op die markte fokus. As ons dit kan bekamp, kan ons ook ander misdade voorkom.”
As ons sindikate kan vernietig, kan ons alle misdade waarin hulle betrokke is bekamp.
Volgens Sitole sal die polisie ook sy reaksie teen geslagsgeweld versterk.
*Volg Netwerk24 vir meer oor die berig.