Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sportskut (30) skiet 2 kapers dood voordat hy self sterf

Nicolaas James (NJ) Devenish (30), sportskut en jagter in sy vrye tyd, was op pad na ’n veldskietkompetisie toe hy Saterdagoggend deur kapers aangeval en doodgeskiet is.

Hy het egter eers twee van die aanvallers doodgeskiet voordat hy aan veelvuldige skietwonde dood is.

Nicolaas James Devenish en sy vrou, Maryna. Hulle was net meer as ’n jaar getroud toe Devenish in ’n skietery met twee kapers dood is. Foto: Facebook

Die sakeontwikkelingsbestuurder van Pretoria is omstreeks 08:00 deur mans in ’n Volkswagen Polo met ’n blou lig op die R50-pad naby Delmas in Mpumalanga aangeval. Die kapers het maskers en glimbaadjies wat deur die polisie gebruik word, aangehad. Dis nie duidelik hoeveel aanvallers daar was nie.

Dit was, volgens sy Facebook-blad, net twee dae ná sy eerste huweliksherdenking. Hy en sy vrou, Maryna, is op 10 Junie 2020 getroud.

Sy het Sondag vroegoggend geskryf: “Woorde is min! Dit is ’n bitter, so seer gevoel. Mag jy die beste tyd hê, elke dag visvang en jag in die hemel.”

Sy beskryf Devenish as die man met die “mooiste, mees opregte en grootste hart” wie se tydjie by haar en sy ander geliefdes te kort was.

“Maar jy het my en almal gelos met soveel lewenslesse en herinneringe . . . Lief jou die meeste.”

Ander wat die jong man uit sy kinderdae in eMalahleni, Mpumalanga, geken het, het hom as saggeaard, iemand met respek vir ander en ’n “ware kind van God” beskryf.

Nog vriende het bygevoeg dat Devenish baie geliefd was, ’n gebore held wie se ja sy ja was en iemand wat nooit geskroom het om te veg vir dit wat reg is nie.

Ook diegene wat hom nie persoonlik geken het nie, beskou Devenish as ’n held wat tot die dood toe “teen ’n oormag” baklei het.

Gideon Joubert, eienaar en redakteur van Paratus, ’n aanlyn hulpbron oor wettige en verantwoordelike vuurwapenbesit en -regte, en ’n vuurwapen-instrukteur, sê Devenish het deur sy optrede ander onskuldiges gered.

“Hy was ’n waardige, sterk vegter wat die gevaar in die oë gekyk het met die oogmerk om veilig huis toe te kan gaan na sy geliefdes,” het Joubert in ’n video op sy Facebook-blad bygevoeg.

“Nicolaas het die ‘loopbane’ van gevaarlike mans beëindig toe hulle die verkeerde persoon aangeval het. Hulle sal nooit weer iemand anders seermaak nie.”

Hy was ’n waardige, sterk vegter wat die gevaar in die oë gekyk het met die oogmerk om veilig huis toe te kan gaan na sy geliefdes.

Ian Cameron, stigter van firearms.co.za, ’n platform wat vuurwapenregte in Suid-Afrika bevorder, het gevra hoe wetsgehoorsames hulself moet verdedig en soos Devenish moet terugveg as hulle nie hulself binne die wet kan bewapen nie.

“Indien die polisie in Suid-Afrika enigsins in ’n noodgeval reageer, neem dit gewoonlik gemiddeld 20 minute. Die polisie verloor meer as 700 vuurwapens per jaar en het in die afgelope sewe jaar oor die 10 miljoen patrone verloor,” sê Cameron.

“Selfs al sou Devenish tyd gehad het om hulp te ontbied, sou die polisie nie betyds gewees het nie en was hy genoodsaak om homself te beskerm.”

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat die mans in die Polo ’n man (Devenish) in ’n Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie wou kaap toe ’n skietery uitgebreek het.

Al drie mans is op die toneel dood aangetref nadat ’n verbyganger drie mense langs die pad gesien lê en hulp ontbied het.

“Die persoon het die polisie ingelig dat die voertuie vol koeëlgate is.”

Die polisie en nooddienste het Devenish se lyk by sy Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie gevind.

Die aanvallers se voertuig het agter die bakkie gestaan. Die twee mans in die Polo het ook verskeie skietwonde gehad.

“Twee vuurwapens is op die toneel gevind en daar is op hulle beslag gelê. Die reeksnommer van een van die vuurwapens is verwyder. Die ander vuurwapen het aan die slagoffer behoort.”

Een van die oorlede kapers is al in die verlede in hegtenis geneem op klagte wat verband hou met motorkapings.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Delmas  |  Kaping  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.