Die polisie sal beslissend optree teen enigiemand wat die vrede tydens pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand versteur of enige landswette daartydens oortree.

Bheki Cele gee Donderdagoggend sy opdragte aan polisiebeamptes vir die staatsrede. Foto: Jaco Marais
Netwerk24Foto: Jaco Marais
Bheki Cele, minister van polisie, het dié waarskuwing Donderdagoggend gerig kort nadat hy sy operasionele opdragte aan honderde polisiebeamptes in Kaapstad uitgestippel het wat binne en buite die parlementêre perseel vir die staatsrede aan diens sal wees.
Joernaliste het Cele spesifiek gevra wat sy kommentaar is oor die EFF se beweringe vroeër die week dat die polisie en die parlement in “geheime vergaderings” saamsweer om bykomende polisiebeamptes Donderdagaand in die Nasionale Vergadering te ontplooi om “geweld op EFF-LP’s los te laat”.
Dit volg nadat Julius Malema, EFF-leier, Sondag gedreig het dat EFF-LP’s Ramaphosa se staatsrede sal ontwrig tensy hy vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, weens sy beweerde aandeel in die Eskom-krisis afdank.
Met die publikasie hiervan was daar nog geen aanduiding van die presidensie of daar aan die EFF se eis voldoen sal word of nie.
Cele het egter in reaksie op ’n vraag oor die EFF se planne gesê dat die parlement (aan die een kant) in Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, voorsittende beamptes het en “die werk van die polisie is om die parlement veilig te maak vir die president om sy staatsrede te lewer”.
“Daardie mense (die EFF) moet self verduidelik wat hulle bedoel as hulle praat van die polisie wat met die parlement saamsweer,” sê Cele.

Polisiebeamptes Donderdag by die Kasteel in Kaapstad. Foto: Jaco Marais
Netwerk24Foto: Jaco Marais
“Ons werk is om te verseker dat die parlement veilig is en dat die president sy werk (kan) doen én dat alle uitgenooide gaste en LP’s, selfs ook dié van die EFF, binne en buite die parlementêre perseel veilig is. Dit sal daarom op pligsversuim van die polisie neerkom as hulle nie teen enigiemand optree wat die vrede versteur en die lyn oorsteek om enige vorm van enige misdaad te pleeg nie.”
Modise en Masondo het vroeër, kort ná die EFF se beweringe, enige sameswering of komplot ontken en bygevoeg dat die parlement wel “gepaste meganismes” in plek het om ’n ordelike staatsrede te verseker waarvan die dekorum en waardigheid Donderdagaand gehandhaaf sal word.