Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Staffie vergiftig toe hy sy mense-gesin beskerm

George die Staffie het Woensdagoggend sy lewe vir sy mensegesin neergelê toe hy vergiftig is terwyl hy hulle in Potchefstroom teen ’n inbreker beskerm het.

George was gek oor stap. ’n Inbreker het hom Woensdagoggend vroeg vergif toe hy sy mensegesin in Potchefstroom teen die booswig beskerm het.Foto: Verskaf

Die vierjarige staffordshire-terriër se spore waar hy die booswig in die Odendaal-gesin se tuin gekonfronteer het, was later die dag nog duidelik sigbaar. Maar die geliefde goudbruin reun se groot hondehart het nie meer geklop terwyl Gerda Odendaal sy laaste dapper spore in die gras uitgewys het nie.

Odendaal was steeds verslae en geskok oor die gebeure in die vroeë oggendure. Sy, haar man, Krappie, en hul kinders, Ané (13) en Albert (9), is “verpletter”, het Gerda Woensdag gesê.

George en die gesin se foksterriër-tefie, Stralie, slaap elke nag by Gerda en Krappie in hul kamer.

“Stralie slaap op die bed en George se mandjie is reg by die venster, waar ons ’n klein stukkie van die diefwering uitgehaal het sodat die honde in die nag kan in- en uitgaan,” vertel Gerda.

Sy en Krappie het Woensdag omstreeks 00:30 wakker geword toe George blaf. Die wakker hond is soos blits by die opening in die diefwering uit. Krappie het opgestaan om ondersoek in te stel. Toe hy by die skuifdeur na buite kom, was dit reeds op ’n skrefie oop – die inbreker het vermoedelik daar gepeuter toe George hom hoor.

“Krappie het net gesien hoe die inbreker oor die muur uit ons erf vlug, vermoedelik nadat George hom laat skrik het,” sê Gerda. “Krappie het dadelik gesien daar is fout met George, want sy pote het onder hom meegegee. Hy het hom in die huis gebring en my gevra om na George te kyk, want die inbreker het hom moontlik geskop. Toe hy die volgende oomblik begin skuim braak, het ons besef hy is vergif.”

Krappie Odendaal draf by die Potchefstroom Parkrun met George (regs), die gesin se geliefde Staffie wat Woensdagoggend vroeg vergif is, en Stralie, hul foksterriër.Foto: Verskaf
Ané (13) en Albert (9) Odendaal sowat twee weke gelede toe hulle met George in die Suikerbos-natuurreservaat in die Vredefort-koepel gaan stap het. Die kinders is verpletter nadat George vergif is. Foto: Verskaf
Gerda Odendaal van Potchefstroom met die gesin se foksterriër, Stralie, in hul tuin waar ’n inbreker Woensdagoggend vroeg hul Staffie, George, vergif het. Foto: Susan Cilliers

Gerda het intussen haar ma, Maureen Fritz, gebel om Mooirivier Beskerming (MB), ’n private veiligheidsmaatskappy in Potchefstroom, se telefoonnommer te kry. Fritz en Gerda se pa, Johan, woon in ’n woonstel op die Odendaals se erf.

“Ek het MB gebel, toe die polisie en daarna ’n veearts in die hande probeer kry,” sê Gerda. Dr. Sameer Abbas was die eerste veearts wat hulle in die hande kon kry. “Hy het gesê ons moet George dadelik na sy praktyk bring.”

Krappie het George in die gesin se voertuig gelaai, maar toe hy by die praktyk kom, was dit reeds te laat. Die gif was te veel vir George se dapper, gespierde lyf.

By die Odendaals se huis het Ané intussen uit haar kamer gekom nadat sy reeds geruime tyd sonder haar ouers se medewete wakker was en doodbang na die lawaai gelê en luister het. “Sy wou weet of George orraait gaan wees,” sê Gerda. “Ek het vir haar gesê sy moet haarself en Stralie in haar kamer toemaak. Albert het deur alles nooit wakker geword nie.”

Gerda Odendaal van Potchefstroom wys die plek by hul tuinmuur waaroor ’n inbreker Woensdagoggend vroeg gevlug het nadat die gesin se Staffie, George, hom die skrik op die lyf gejaag het. Die inbreker het George egter vergif. Die getroue hond was binne minute dood. Foto: Susan Cilliers

Dis vir Gerda ’n raaisel hoe die inbreker die gif vir George ingegee het.

“Hy sou nie sommer net enigiets eet wat die inbreker vir hom sou gegooi het nie. George was baie saggeaard, maar ook ontsettend beskermend teenoor ons en het maklik geblaf vir mense wat naby ons hek verbyloop.”

Die Odendaals is baie teleurgesteld in die polisie se reaksie. “Ons het hulle om 02:00 gebel, maar twee beamptes het eers om 03:30 opgedaag. Hulle het nie eens ’n flits by hulle gehad nie. MB was baie vinnig hier, hulle het selfs (die diere-organisasie) Paws gebel en gevra hulle moet George kom haal nadat Krappie hom teruggebring het van die veearts. Dít terwyl ons nie eens lede van MB is nie.”

Die Odendaals het agterna ’n skroewedraaier aan die straatkant van hul heining gevind. Die inbreker het dit vermoedelik gebruik om die skuifdeur oop te dwing.

* Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie kon nie dadelik na die Odendaals uitgaan toe die klag ontvang is nie omdat daar ander ernstige gevalle was wat voorkeur moes geniet, onder meer ’n motorongeluk.

“Ons lede het egter wel uitgegaan en ’n klag van poging tot huisbraak word ondersoek. Ons ondersoek ook die bewering dat die lede nie ’n flits gehad het nie.”

Meer oor:  George  |  Potchefstroom  |  Vergiftig  |  Hond  |  Inbreker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.