Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Steekwond in hart eis Kaapse onderwyseres

Die onderwyseres Helga van Wyk (62) is Maandag met ’n enkele steekwond in die hart en in ’n plas bloed in haar bed dood.

Adv. Johann van Wyk (65), dié geliefde onderwyseres van die Hoërskool Monumentpark in Kraaifontein se man, het haar te hulp gesnel en is sowat ses keer deur ’n onbekende aanvaller gesteek.

Helga van Wyk
Helga van Wyk Foto: Facebook
Johann en Helga van Wyk. Johann is ’n afgetrede advokaat. Foto: Facebook

’n Bron sê Johann kon daarin slaag om hul een seun, Schalk van Wyk, wat saam met sy gesin sowat drie blokke van sy ouerhuis in Durbanville woon, te bel.

Schalk het sy ma dood in haar bed gekry en die polisie en ambulansdienste gebel.

Sy ernstig beseerde pa is na die Mediclinic in Durbanville geneem waar hy Maandagoggend geopereer is.

Morris Palmer, die hospitaal se woordvoerder, sê Johann is in ’n ernstige, maar stabiele toestand in die waakeenheid. “Ek mag ongelukkig geen verdere inligting oor die pasiënt en sy toestand deel nie,” het Palmer gesê.

Volgens die bron het Johann sy vrou hoor skreeu. Die egpaar slaap nie in dieselfde kamer nie, omdat Johann glo baie snork. Hy is na sy vrou se kamer, waar hy ’n onbekende man by haar bed sien staan het.

Die man het glo geld gesoek. Toe hulle vir hom sê hulle het nie geld nie, het hy Helga glo een keer in die bors, reg in haar hart, gesteek.

Johann en die aanvaller het gestoei, waarna die man Johann ook gesteek het.

Die hek van die huis waar Helga van Wyk vermoor en haar man, Johann, herhaaldelik deur ’n onbekende aanvaller met ’n mes gesteek is. Foto: Jaco Marais
Polisiebeamptes op die toneel waar hulle die erf en huis van Johann van Wyk en sy vrou, Helga, vir leidrade gefynkam het. Foto: Jaco Marais

Netwerk24 kon Maandag nie een van die Van Wyks se kinders, Schalk, Andre of Alet, vir kommentaar opspoor nie.

Jo Els, Schalk se skoonpa wat ’n landdros in Tarkastad in die Oos-Kaap is, het wel Maandagmiddag bevestig dat Helga vermoor en Johann in ’n ernstige toestand in ’n plaaslike hospitaal is.

Hy het gesê dat sy dogter, Kiari Els van Wyk, hom kort ná 01:30 in ’n emosionele toestand gekontak en ingelig het dat haar skoonouers in hul huis aangeval en haar skoonma dood is.

Els het Helga as Johann en sy kinders se rots beskryf. “Ons is verpletter en die kinders ook,” het hy gesê.

Els het gesê niemand weet nog hoeveel mense by die aanval betrokke was, wat uit die huis vermis word of hoe daar toegang tot die huis verkry is nie.

Maandagmiddag was lede van die Durbanville-polisie nog op die toneel en het hulle die huis en erf vir leidrade gefynkam.

’n Polisiebeampte maak die hek van die huis toe waar Helga van Wyk Maandagoggend vermoor is. Foto: Jaco Marais

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy het gesê die polisieondersoek duur voort en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Huldeblyke het Maandag vir Helga, wat vir 28 jaar ’n onderwyseres by die Hoërskool Monumentpark was, ingestroom.

Die skool is ná Maandag se matriekeksamen vir die dag verdaag.

’n Oudleerling van die skool, Cindy Isaacs Felix, het op Facebook geskryf dat Helga die gaafste onderwyseres nóg was.

Nog leerlinge het haar as ’n goeie onderwyseres en ’n wonderlike mens beskryf. “Dit is baie hartseer nuus,” het Lisa van der Westhuizen geskryf.

durbanville, moord
Meer oor:  Hoërskool Monumentpark  |  Helga Van Wyk  |  Durbanville  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.