Die polisieondersoek na die moord op die sakeman Johann Ungerer van Stilbaai duur voort en alle leidrade word opgevolg.
Ungerer (65) is op 3 November in ’n huisroof vermoor. Sy vrou, Christa (61), is vasgebind en in ’n kamer toegesluit.

Johann Ungerer Foto: Verskaf
Die egpaar het geslaap toe hulle kort ná middernag in hul huis in Melkboomstraat deur drie rowers oorval is.
Die polisie sê die rowers het die huis binnegekom deur die glas van ’n venster te verwyder.
Die rowers het ’n vuurwapen, ’n mes en skroewedraaier by hulle gehad en Ungerer is in die nek gesteek.
Die rowers het met kontant, selfone, ’n skootrekenaar en juweliersware in Christa se Chevrolet-bakkie gevlug. Die bakkie is later verlate op ’n plaas tussen Stilbaai en Riversdal gevind.
Die familie het kort ná die moord ’n beloning van R10 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van die aanvallers kan lei.
Juanita Leask, die egpaar se dogter, het by navraag gesê dat dit ’n hoëprofielsaak is, maar dat sy nie daaroor kan uitwei nie.
Sers. Chris Spies, ’n polisiewoordvoerder, sê die ondersoek duur voort en alle leidrade word opgevolg.
“Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Ludwich Schnetler, by 028 754 6100 of 079 894 1593, vir ao. Tekkie Grebe by 082 469 6752, of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.”