Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Stilfontein-besetting: Nog strukture opgerig
Van die yl gesaaide grondbesetters by Stilfontein brand gras om “skoon te maak” vir erwe.Foto: Nicolize van der Walt

Grondbesetters in die omgewing van Stilfontein in Noordwes het Vrydag begin om woonstrukture oor die hele besettingsgebied van sowat 3 km op te rig.

Dis egter nog yl gesaai en die situasie is “rustig”, hoewel inwoners langs die besette gebied bekommerd is, sê Bea Campbell-Cloete, ’n proporsionele DA-raadslid in die Matlosana-munisipaliteit wat die gebied bedien.

“Die gemoedere loop hoog, mense kla die rook van vure wat die besetters saans maak, waai in hul huise in. Die spoorlyn reg langs die besette gebied is ook nie omhein nie. Dit is gevaarlik op so ’n besige treinroete. Wat as iemand onder ’n trein beland?”

Die besetters het Sondag opgedaag en erwe begin uitmeet. Hulle was aanvanklik net op ’n stuk grond reg langs wyk 30, ’n woonbuurt in Stilfontein. Dié stuk grond behoort aan die departement van openbare werke (DOW). Intussen het die besetters verder versprei oor die oop gebied na dele wat onderskeidelik behoort aan die Matlosana-munisipaliteit, asook ’n private maatskappy.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het Vrydagmiddag gesê die polisie kan die besetters nie nou al verwyder nie omdat die grenslyne tussen die onderskeie grondeienaars vaag is, die besetters rondbeweeg en die polisie dus nie seker is op wie se grond hulle is nie. “Ons ondersoek die saak.”

Die polisie patrolleer dus die gebied, maar verwyder nog nie mense nie.

Dis kommerwekkend dat die munisipaliteit nie daadwerklik optree nie.

Die polisie kan betreders net verwyder as die grondeienaar klagte ingedien het, en terwyl hulle nog nie strukture opgerig het of die strukture nog onvoltooid en dus nie bewoonbaar is nie. Sodra dit voltooi en bewoonbaar is, moet die eienaar op eie koste ’n hofbevel kry om die betreders te verwyder.

Die kern van die probleem nou is dat die DOW en die private maatskappy klagte van betreding by die polisie ingedien het, maar die Matlosana-munisipaliteit het nie. Hulle wil nog self met die betreders onderhandel.

Maetu Kgaile, burgemeester, het gesê die stuk grond waar die besetters nou is, is nie geskik vir menslike gebruik nie omdat dit dolomietagtig is. Die munisipaliteit probeer nou alternatiewe grond vir hulle vind en het onderneem om self te keer dat die besetters strukture op hul grond oprig. Dit het egter nou reeds begin gebeur, maar daar was nog geen optrede nie.

“Dis kommerwekkend dat die munisipaliteit nie daadwerklik optree nie,” sê Campbell-Cloete. Sy meen die polisie sal huiwerig wees om op te tree totdat al drie die betrokke grondeienaars klagte ingedien het.

Fanie du Toit, onderleier van die VF Plus in Noordwes, sê egter kaarte is aan die polisie verskaf oor presies waar die grenslyne van die verskillende grondeienaars lê. “Dit lyk of die situasie met handskoene gehanteer word. Ek was vandag (Vrydag) by die polisiekantoor om te vra hulle moet keer dat mense verder strukture oprig. Die polisie behoort mos op te tree op die grond waar die eienaars klagte ingedien het.”

Volgens Du Toit het daar Vrydag ook ’n groep besetters digby die Khuma-township in dieselfde omgewing as die huidige besetting opgedaag. Dié stuk grond behoort ook aan onderskeidelik ’n private maatskappy en die munisipaliteit.

Die polisie behoort mos op te tree op die grond waar die eienaars klagte ingedien het.

Meer oor:  Besetting  |  Grondbesetters  |  Stilfontein  |  Grondgryp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.