Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Straat afgesper vir Kinnear se gedenkdiens

Meer as 500 mense word Donderdag verwag op ’n gedenkdiens vir lt.kol. Charl Kinnear in Gearingstraat, Sidneyvale, in Bishop Lavis.

Graham Lindhorst, voorsitter van die Bishop Lavis-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê van Kinnear se familielede, insluitend sy vrou, Nicolette, gaan op die gedenkdiens oor sy lewe praat.

Ook sy twee laaste bevelvoerders in die polisie, genl.maj. Jeremy Vearey en genl.maj. André Lincoln, gaan volgens Lindhorst ook elkeen spreekbeurte hê.

Lt.kol. Charl Kinnear Foto: Verskaf

Hy sê eerw. Chris Nissen van die Menseregtekommissie en self ’n boorling van Bishop Lavis sal ook een van die sprekers wees.

Lindhorst sê die GPF se bestuur het Dinsdag die finale reëlings met die Bishop Lavis-polisie oor die gedenkdiens bespreek en uitgeklaar.

Volgens hom gaan Gearingstraat vir die duur van die gedenkdiens vir verkeer afgesper word.

Nicolette het Dinsdag aan die radio- en televisie-oggendprogram Die Groot Ontbyt gesê vrees was al die jare ’n konstante faktor in hul lewe.

Kinnear, een van die speurhoofde van die Wes-Kaapse bende-eenheid, is Vrydag voor sy huis in Gearingstraat deur ’n onbekende gemaskerde man in ’n rooi kappietop geskiet.

kinnear
Die misdaadtoneel in Sidneyvale, Bishop Lavis, waar lt.kol Charl Kinnear, Vrydag doodgeskiet is. Foto: Jaco Marais

Hy het voor sy huis gewag dat sy seun sy voertuig uit die oprit trek sodat hy kon intrek toe hy geskiet is.

Kinnear is meer as vyf keer raakgeskiet en is op die toneel dood. Die meeste van die skote was in sy bolyf.

Nicolette sê hul twee seuns het altyd gesê hulle het nie ’n normale tienerlewe gehad nie.

“Ons was altyd bewus van waar ons is. Daar was sekere plekke waar hy nie kon saamgaan nie omdat die risiko hoër kon wees.”

Sy sê dat haar man 31 jaar gelede ’n eed afgelê het en dat hy daardie eed, die belofte aan sy land, tot sy dood gehou het. Kinnear se werk was sy roeping, sê sy.

Hy het ook nooit sy gesin eerste gestel of daaraan gedink om weg te stap nie.

Nicolette sê hulle is oorweldig deur die steun wat hulle kry, maar sy is hartseer dat dit haar man se dood gekos het vir die breë gemeenskap en die Suid-Afrikaanse Polisiediens om te weet hoeveel hy vir hulle werd was.

Finale begrafnisreëlings vir Kinnear is nog nie bekend nie.

Die ondersoek na Kinnear se moord duur voort. Niemand is al in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Graham Lindhorst  |  Charl Kinnear  |  Bishop Lavis  |  Straat  |  Afgesper  |  Gedenkdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.