Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Stropers kry bloedneus by Gansbaai

In ’n gesamentlike operasie in die omgewing van Gansbaai, een van die omvangrykste die afgelope paar jaar, het ’n taakspan vandeesweek perlemoen van meer as R5 miljoen gekonfiskeer.

Vier mense is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op twee bote en twee voertuie wat aan die vermeende stropers behoort.

Die taakspan het bestaan uit lede van die weermag, lugmag, die polisie se seegrenspatrollie-eenheid, die polisie se lugvleuel, spesiale taakmag, die teenbende-eenheid, die Overbergse polisie, die Overstrand se wetstoepassingsafdeling, CapeNature en beamptes van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye (DEFF), ondersteun deur Bidvest Protea Coin.

’n Oryx-helikopter van die lugmag tydens die operasie vroeër vandeesweek by Pearly Beach. Foto: Verskaf

Die operasie het op Dyer-eiland, sowat 6 km van die kus by Gansbaai in die Overberg, gefokus waar vermeende perlemoenstropers op rubberbote perlemoen gestroop het. Twee Oryx-helikopters van die lugmag, sowel as ’n helikopter van die polisie se lugvleuel en hoëspoed rubberbote van die seegrenseenheid het die stropers aangekeer, terwyl spanne op land die stropers, van wie sommiges die byna 6 km na die land uitgeswem het, aangekeer het.

“Ons is verheug oor die omvattende operasie en dat daar nou op groot skaal teen perlemoenstropers in die gebied opgetree word,” sê Leo van Dyk, sekretaris van die omgewingsdrukgroep Community Against Abalone Poaching (CAAP) .

“Ons beywer ons al die afgelope tien jaar vir strenger optrede teen perlemoenstropers wat die perlemoenbronne voor die voet uitroei en geen ontsag het vir inwoners of vakansiegangers van die omgewing nie.

“Die optrede deur die wetstoepassingsowerhede moet nou net voortgesit word sodat ons eens en vir altyd hierdie omgewingsmidaad, wat aan ekoterrorisme grens, kan stopsit.

“Dit is ’n misdaad wat op georganiseerde wyse beplan en uitgevoer word en beroof die staat jaarliks van miljoene rand se valuta. Perlemoen is ook ’n bedreigde mariene spesie en behoort die beskerming te geniet wat ander bedreigde spesies, soos renosters en olifante, kry.

’n Rubberboot vol vermeende stropers. Foto: Verskaf

“Ons wil graag hierdie optrede loof en die publiek versoek om geduldig te wees met die owerhede wat onder moeilike omstandighede, soos mannekragtekorte, ’n tekort aan die regte toerusting en finansiële inperkings hierdie moeilike taak uitvoer. Die publiek kan ons steeds op ons sosialemediaplatforms kontak as hulle inligting oor stropery-aktiwiteite het en ons sal soos in die verlede sorg dat die inligting anoniem by die regte owerhede vir optrede uitkom,” sê Van Dyk.

Volgens kapt. Danie Rautenbach, lid van die Overbergse polisie, was dit ’n geteikende optrede wat voortgespruit het uit die verslag van Johan Brand, die ombudsman oor die polisie, waarin die onvermoë van die polisie in Overberg om die probleem van perlemoensmokkelary op te los, uitgewys is.

Perlemoen van meer as R5 miljoen is tydens die operasie gekonfiskeer. Foto: Verskaf

“Van die aanbevelings in die verslag is ook om die verband tussen perlemoensmokkelary, bende-aktiwiteite en georganiseerde misdaad te ondersoek.

“Tydens die operasie is die stropers vanuit die lug, vanaf die land en ter see bygedam. Die twee voertuie en bote wat gekonfiskeer is, is reeds tydens vooraf ondersoeke geïdentifiseer. Die optrede ter see is opgevolg met operasies in Eluxolweni in Pearly Beach en by Buffeljags, naby Gansbaai.

Drie verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van duik in ’n geslote gebied, die onwettige besit van perlemoen en die besit van verbode toerusting. Nog een is aangekla vir duik in ’n geslote gebied en die besit van verbode toerusting, terwyl ’n vyfde aangekeer is vir die besit van perlemoen en dwarsboming van die gereg. Die verdagtes het reeds in die landdroshof in Bredasdorp verskyn.

Van die bote en voertuie waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

“Hul betrokkenheid by georganiseerde misdaadaktiwiteite sal ook verder ondersoek word as deel van ons groter ondersoek na die perlemoensmokkelsindikate onder die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca).

“Die operasie was die eerste van ’n reeks beplande optredes wat deel vorm van ons ondersoek na perlemoensmokkelsindikate wat in die Overberg aktief is, en nog inhegtenisnemings kan binnekort verwag word,” sê Rautenbach.

’n Aantal verdagtes uit die Overberg is ook tydens ’n soortgelyke operasie by Robbeneiland vir perlemoensmokkelary vasgetrek. Een van die verdagtes is deur lede van die seegrens-eenheid van Saldanha ná ’n hoëspoedjaagtog ter see aangekeer.

Meer oor:  Gansbaai  |  Polisie  |  Perlemoen  |  Perlemoensindikaat  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.