Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Stryery – en ’n lem-dood

Op Stanford naby Hermanus staan wyle Johan (Seun) Fortuin se vrou Dorothy met afgeslane oë in haar ligpers huisie soos sy na woorde soek oor die voorval waarin ’n bekende wynboer glo haar man met ’n mes doodgesteek het.

Só lyk die ingang van Sir Robert Stanford landgoed, waarvan die eienaar tereg staan op ’n moordklag. Foto: Edrea du Toit

Die 49-jarige Johan Fortuin is voorverlede Dinsdag tydens ’n hewige woordewisseling met Jan Malan doodgesteek, toe dié hom gekonfronteer het oor vermoedelik gesteelde goedere.

Stanford is ’n piepklein dorp in die Overstrand waar Malan (57) eienaar is van ’n 164 jaar oue wynlandgoed, Sir Robert Stanford Estate. Dit is ’n klipgooi van die arm buurt waar die elektri­siën Fortuin sy huisie oor die jare met sementblokke opgeknap het.

Sy familie wou sedert die voorval nie met die media praat nie. Op sosiale media skryf die dogter Brenda Pieterse: “Kan iemand asseblief kom en hierdie pyn wegvat.” ’n Rits emoji’s van gebreekte harte volg.

Boer, voorman agter ‘gesteelde goed’ aan.

Malan se prokureur, Asghar Mia, het Vrydag aan Rapport gesê sy kliënt en dié se voorman het op 2 Junie die gestorwe man op die wynplaas gewaar waar hy “gesteelde goedere” in ’n Volkswagen Golf-motor laai.

Die twee mans het die motor agternagesit tot in Dreyerstraat, waar Fortuin woon. Mia sê sy kliënt en Fortuin was daar in ’n gesprek gewikkel toe ’n groep mans nader staan, van hulle gewapen met grawe.

Jan Malan Foto: Property24

In ’n geveg hierna is Fortuin ernstig gewond en hy het voor sy huis inmekaar gesak. Malan is na die plaaslike polisiekantoor om ’n aanrandingsklag teen die mans in te dien. Terwyl hy daar was, het die polisie ’n oproep ontvang dat die gewonde Fortuin oorlede is. Malan is in hegtenis geneem, maar dieselfde aand in die hospitaal opgeneem weens inwendige beserings. Mia sê sy kliënt het beserings aan sy nier.

Borgtog van R3 000 is die afgelope Woensdag in die landdroshof in Hermanus aan hom toegestaan waar hy verskyn het op ’n aanklag van moord.

Johan (Seun) Fortuin en sy vrou, Dorothy. Foto: Facebook

Fortuin se vrou wou Vrydag nie oor die voorval uitbrei nie, behalwe om met groot moeite te uiter dat sy daardie dag besig was om wasgoed op te hang.

Van daar kon sy die motorhek sien waar dit gebeur het. “Hier, net hier,” sê sy en wys na die pilaar van die hek. Sy weet ook nie van ’n graaf, soos die mense sê nie. “Dit was donker.”

Malan se plaas was verlede jaar vir R44 miljoen in die mark.

Die huis van Johan Fortuin en sy vrou, Dorothy. Hy is by die motorhek doodgesteek. Foto: Edrea du Toit

Hy sê in ’n onlangse video oor die plaas hy wil die eiendom verkoop omdat sy seuns hul eie sakeloopbaan volg en hy oorsee wil reis.

Ingevolge sy borgtogvoorwaardes moes hy sy paspoort inhandig en ook 48 uur kennis aan die ondersoekbeampte gee sou hy binne die landsgrense wou reis.

Hy moet ook by ’n alternatiewe adres, in Voëlklip, Hermanus, gaan woon totdat die saak afgehandel is en mag net Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 17:00 op die plaas wees.

Hy moes ook al sy vuurwapens, behalwe een wat hy vir sy eie veiligheid mag gebruik, by die polisie inhandig. Die saak is tot 19 September vir verdere ondersoek uitgestel.

Meer oor:  Stanford  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.