Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Student vermoor, verkrag: Wie is volgende?

“Bid jou aan jy gaan poskantoor toe. POSKANTOOR TOE en jy kom nie lewend daar uit nie. Ons is moeg. Die vrou in my is moeg. Wanneer gaan genoeg genoeg wees?”

Vroue het hul skok uitgespreek oor die omstandighede waarin die eerstejaarstudent Uyinene Mrwetyana verkrag en vermoor is, wat in 'n Twitter-veldtog met die hutswoord #AmINext gelei het.

Dit het Maandag in die hof aan die lig gekom dat sy in die Clareinch-poskantoor in Claremont, Kaapstad verkrag en vermoor is.

Mrwetyana, ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad (UK), is op Saterdag 24 Augustus teen middagete laas lewend voor die poskantoor gesien.

Uyinene Mrwetyana (19) is glo in die poskantoor verkrag en vermoor.Foto: Verskaf

’n Man (42), wat in die poskantoor werk, is Vrydag in verband met haar verdwyning in hegtenis geneem, maar het Maandag op aanklagte van moord, verkragting en regsverydeling verskyn.

“Ek kan nie glo jy sê vir my dat ons as vroue nie eens poskantoor toe kan gaan, REG LANGS ’n POLISIEKANTOOR nie, en kan veilig wees nie,” het Melanie du Toit op Twitter uitgevaar.

Vroue op Twitter deel hul ervarings van misdaad en spreek hul vrees uit dat hulle volgende gaan wees.

Luke Waltham skryf vroue is nie meer veilig in Suid-Afrika nie. Vroue kan nie eens in die straat afloop sonder dat hulle die teiken van verkragting, aanranding of moord is nie.

“Ons moet meer doen, Suid-Afrika. Die tyd stap aan. Ons sal nie ophou veg vir die veiligheid en emansipasie van vroue nie.”

News24 het Maandag berig landdros Goolam Bawa het gelas dat ’n uitkenningsparade gehou word en dat die media, ingevolge ’n hofbevel, nie die beskuldigde se naam bekend mag maak nie.

Hy het Mrwetyana glo in die poskantoor met ’n skaal geslaan, haar verkrag en toe vermoor.

Hy het glo ’n bekentenis afgelê en die polisie gaan wys waar hy haar lyk begrawe het.

Die staat voer aan dat sy op die dag van haar verdwyning ’n pakkie by die poskantoor gaan afhaal het, maar gehoor het dat die krag in die poskantoor af was.

Sy is aangesê om later terug te kom.

Met haar terugkeer het die werknemer haar seksueel aangerand. Hy het haar met ’n skaal geslaan toe sy teruggeveg het.

Aartsbiskop Thabo Makgoba het sy meegevoel met haar familie en vriende uitgespreek en gesê dié verlies is besonder pynlik, des te meer omdat hy ook ’n dogter het wat aan die UK studeer.

“As die pa van ’n dogter wat aan dieselfde instansie studeer, voel ek hierdie pynlike verlies. Die samelewing moet saamstaan teen die aaklige voorkoms van geweld teen vroue en kinders. Die vinnige ondersoek en inhegtenisneming in hierdie saak moet geprys word,” het hy gesê.

Prof. Mamokgethi Phakeng van die UK en die uitvoerende bestuur het op sosiale media gesê die feit dat ’n jong vrouestudent op so 'n afgryslike manier gesterf het, is verwoestend en het hulle diep geskok.

“Dit is onbegryplik dat ’n jong lewe met soveel potensiaal uit haar gesin en ons gemeenskap geruk is. Dit is nóg meer ontstellend dat hierdie aaklige voorval een van die vele is waar vroue, jonk en oud, en selfs meisies, op so ’n gewelddadige manier uit ons gemeenskappe geruk word.” Die universiteit het sy medelye uitgespreek met Nene, soos sy alombekend was, se gesin wat die afgelope week sedert haar verdwyning deur ondenkbare lyding, pyn en angs is.

“Ons het verlede week die gesin ontmoet en was in voortdurende kontak met hulle. Ons sal hulle in ons gedagtes hou en ons bes doen om hulle te ondersteun,” het Phakeng gesê.

“Ons erken ook dat Nene ’n lid van die UK-gemeenskap was en dat baie mense in haar koshuis, Roscommon House, in haar klas, in haar fakulteit en in die breër UK-gemeenskap diep geraak is deur hierdie gebeurtenis.”

Sy het gesê die universiteitsbestuur is bekommerd oor die onaanvaarbare vlakke van geweld wat teen vroue voortduur.

“Die uitvoerende bestuur van die UK sal dringend vergader om te bespreek hoe ons Nene se lewe kan gedenk, asook dié van die vele in ons samelewing wat deur geweld geraak word.”

https://twitter.com/MelduToit/status/1168470913265876993?s=20

https://twitter.com/lukewaltham/status/1168486271863443458?s=20

Meer oor:  Kaapstad  |  Claremont  |  Verkragting  |  Moord  |  Uyinene Mrwetyana  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.