Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Stuit ‘plattelandse depressie’ só ná plaasmoorde

Twee dubbele moorde in een distrik dwing ’n gemeenskap op sy knieë met skok, vrees en die byl van verdeeldheid wat ál dieper kloof. Cheréne Pienaar het met kundiges gepraat oor hoe ’n dorp en sy mense hulself kan toerus om heel anderkant die trauma uit te kom. 

’n Jaar gelede het die moord op die boere-egpaar Marian en Choppie Bruwer op Vanstadensrus ’n rimpeleffek van trauma in dié klein gemeenskap ontlok. Foto: Verskaf

Die moorde op Ina en Sakkie van der Berg op ’n plaas tussen Boshof en Dealesville het ’n vars wond in dié dorpe se gemeenskappe gekap.

Dit is net meer as ’n maand nadat Monica Deniacos, ’n DA-raadslid, en haar man, Basil, in hul huis op Dealesville vermoor is.

Sihle Ngobese, ’n ontleder van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), praat van ’n “toksiese omgewing” wat veroorsaak word deur misdadigers wat hulle toespits op boere van gemiddeld 58 jaar en ouer wat as maklike teikens gesien word.

Sekondêre trauma en verwydering tussen mense is twee van die grootste nalatenskappe hiervan, sê Este Pistorius, ’n sielkundige in Bloemfontein.

“Iets gebeur met een of twee mense, en dan begin die gemeenskap dieselfde ervaar.”

Selfs net die moordtonele van plaasmoorde wat op die televisie of die sosiale media verskyn, veroorsaak post-traumatiese stresversteuring (PTSV) onder inwoners van dieselfde dorp omdat dit so na aan die been sny.

Sakkie van der Berg (67) en sy vrou, Ina (62), is Vrydagaand op die plaas Bloubos buite Boshof in die Vrystaat vermoor. Foto: Verskaf

Dit is moeilik om dié kollektiewe toestand te behandel. “As iemand bang is vir iets wat nooit gaan gebeur nie is dit maklik. Maar hierdie is realiteit, ek kan nie vir hulle sê ‘moenie bang wees nie’.”

Almal moet bewus word daarvan dat voortdurende angs voorvalle van selfdood geweldig vermeerder.

Isolasie veroorsaak op sy beurt depressie en word deur sosiale media aangevuur, want dit oorheers al hoe meer kontak van aangesig tot aangesig.

“Mense het ’n behoefte aan regte verbintenisse. Hulle wil voel hulle behoort, veral as die gevoel van veiligheid in gedrang is.”

Ds. Andreas van Rooyen van die NG gemeente Boshof sê hy sien meer toenadering tussen mense wat ’n positiewe uitvloeisel van ’n plaasmoord kan wees.

Die lyke van Monica Deniacos, DA-raadslid van die Tokologo-munisipaliteit (Dealesville, Boshoff en Hertzogville), en haar man is op 31 Mei in hul huis in Dealesville gevind. Foto: Verskaf

“Hulle besef hoe afhanklik hulle van mekaar is. Mense bestee ook makliker tyd met familie en vriende as wat die norm was. Dalk is dit die laaste keer dat hulle mekaar gaan sien.”

Op plase praat boere ook meer gereeld met hul werkers om te vra hulle moet laat weet as hulle vreemdelinge in die omtrek sien.

“Hulle maak meer staat op hul swart werkers om hulle veilig te hou.”

Dan is daar ook verskeie groepe op WhatsApp waar mense soggens en saans laat weet of alles in orde is.

“En as iemand nie laat weet nie, word daar dadelik gebel. As daar nie reaksie is nie, gaan hulle saam met die polisie en die naaste buurman om te kyk.”

Pistorius sê die gemeenskappe wat saamstaan, hierdie koesterende effek, is die sterkste teenvoeter vir “plattelandse depressie”.

“Daar is bevind die menslike brein kan nie tussen gee en ontvang onderskei nie.

Ds. Andreas van RooyenFoto: Verskaf
Sihle Ngobese, ’n ontleder van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV). Foto: Verskaf
Este Pistorius, ’n sielkundige in Bloemfontein.Foto: Verskaf

“As jy ander help deur te gee, dan voel jy of jy ook ontvang. Dit is ’n totale positiewe swaai. Ek persoonlik dink Suid-Afrikaners begin vir die eerste keer saamstaan.”

Ngobese meen die hart van die kwessie is gemeenskappe moet begin om hulself te organiseer.

“Hiermee bedoel ek hulle moet hulself organiseer verby die belangegroepe soos politici.”

Die land se politieke retoriek is ontwerp om mense te verdeel.

“Dit is die ons en hulle. Maar met die IRV se ‘Hoop-verslag’ het ons gevind dat Suid-Afrikaners wat die meeste kwessies betref, eintlik baie na aan mekaar is en dat ons nie eintlik in die rasseverdelings en dies meer glo nie.”

Sy pleidooi is dat die land se mense daarop moet voortbou.

“Die vraag is hoe skep ons die sosiale ruimtes wat die dinge wat ons saambind, benadruk.”

Hy is ten gunste van gemeenskappe wat self die leisels neem vir hul veiligheid en die IRV het stappe hiervoor uiteengesit wat gegrond is op hul verslag (sien praktiese stappe in kassie).

Drie stappe om plaasmoorde hok te slaan:

Ngobese sê hoewel daar nie ’n wenresep nie, moet gemeenskappe besef hulle is nie so verwyderd nie, ongeag wat politici sê. Hulle moet self die leisels neem wanneer dit kom by veiligheid en moet bemagtig word om dit te kan doen.

Die IRV se voorstelle om die nasionale krisis van plaasmoorde op te los, is soos volg:

1. Inwoners van landelike gebiede moet belastingkorting kry sodat hulle in hul eie veiligheid by die huis (in diefwering, geëlektrifiseerde heinings, ensovoorts) kan belê. Ngobese stel dié stap voor sodat ieder en elk, “swart en wit”, dit kan bekostig.

2. Gemeenskappe moet, net soos met die raadsverkiesing, self vir die dorp se polisiebevelvoerder stem. “Dit gaan daaroor om die mag vir die gemeenskappe terug te gee. Die IRV stel dus voor dat die gemeenskap stem vir wie die bevelvoerder moet wees wanneer die plaaslike verkiesing gehou word.”

3. Mense moet buurtwagte organiseer wat hulle toelaat om hul eie buurte te patrolleer en om só ’n gevoel van sosiale kohesie te bewerkstellig. “Dit kan in plaasgebiede wees, in townships, in woonbuurte. Die kwessie is hoe jy dit saamstel.”

’n Mens moenie haat en angs “kosgee” nie, sê Pistorius.

“As jy rassisties begin dink, sien jy alles om jou deur daardie lens, en dit tap jou energie. Al is dit erg in die land, lyk dit dan tien keer erger.

“Fokus eerder daarop om uit te reik na ander as om die ‘vyand’ buite te hou.”

Hoe meer jy bemagtig is met tasbare hulpbronne soos ’n alarmstelsel, des te meer gaan jy sielkundig daarby baat vind.

“Want jy weet jou goed is in plek. Kinders wil ook weet daar is ’n alarm, my pa het gesorg.”

Van Rooyen moet nou ’n gemeente toespreek met twee leë sitplekke, dié van Sakkie en Ina.

“Oom Sakkie sou nou September bevestig word as ouderling vir sy wyk op die plaas.”

In die gemeente probeer hy verhoed dat mense mekaar negatief opwerk en só toelaat dat angstigheid en verdenking uitkring.

Die feit dat soortgelyke voorvalle op swart boere en hul families voorkom, bring perspektief.

“Dié voorvalle haal nie altyd die nuus nie, maar dit is nie ’n swart-op-wit-kwessie nie. Dit is geweld van mense wat niks het nie op mense wat iets het.”

Ngobese stem hiermee saam.

“Misdaad, en veral plaasmoorde, is nie ’n kleurkwessie nie, dit raak almal.”

* Die boere-egpaar Marian en Choppie Bruwer is ’n jaar gelede op hul plaas by Vanstadensrus vermoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.