Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Suid-Kaap veiligste in SA dié feestyd’
Polisielede Maandagmiddag op ’n parade by die polisie se hoofkantoor in Heatherlands, George. Foto: Jackie Kruger

Die Suid-Kaap sal die feesseisoen die veiligste gebied in die land wees.

Dié versekering is gegee deur genl.maj. Oswald Reddy, polisiehoof in die Tuinroete-gebied, toe hy Maandagmiddag die polisie se veiligheidsplanne vir die feesseisoen bekend gemaak het.

Dit sluit ekstra patrollies in by gewilde bestemmings soos die Dolphin’s Point-uitkykpunt in Wildernis, waar toeriste die afgelope jaar reeds aangeval is.

Reddy en verteenwoordigers van 13 polisiestasies in die Suid-Kaap het Maandag die veiligheidsplanne by die polisie se hoofkantoor in Heatherlands, George, bespreek.

Volgens hom sal die polisie se sigbaarheid verskerp word, onder meer by winkelsentrums en strande. Gesamentlike optredes sal saam met die polisie in ander provinsies soos die Noord- en Oos-Kaap plaasvind. Dit is om onder meer die vervoer van en handel in dwelms hok te slaan.

Hy is bekommerd oor drankmisbruik, sê Reddy. “Mense gaan hulself te buite in so ’n mate dat hulle misdaadslagoffers of selfs oortreders word.”

Die polisie sal hom toespits op besoeke aan afsetpunte vir drank en diegene wat nie oor dranklisensies beskik of aan die wetgewing voldoen nie, sal vasgevat word.

Volgens Reddy is daar ook kommer oor inbrake by vakansiehuise wat die heeljaar toe staan. Talle mense daag vir die vakansietyd by hulle vakansiehuise op net om te ontdek dat daar in ’n stadium ingebreek en items gesteel is. Om dan te bepaal presies wanneer die inbraak was, is moeilik, sê Reddy.

Mense word ook gewaarsku om nie groot bedrae geld tydens die feesseisoen te onttrek en aan hulle te dra nie. Items soos juweliersware, skootrekenaars en selfone moenie oop en bloot in motors gelos word waar opportunistiese misdadigers dit kan sien nie. Gedurende die feesseisoen is daar ook meer gevalle waar diewe motors met afstandbeheer oopmaak.

Volgens hom sal polisielede wat siek word oor die feesseisoen besoek word om vas te stel of hulle regtig siek is. Die polisie sal ook optree teen mense wat vals klagtes vir versekeringsdoeleindes indien, sê hy.

Meer klagtes is gedurende die 16 dae-veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders aangemeld, volgens hom. “Dit word in ’n positiewe lig beskou omdat dit wys mense het die vertroue om na vore te kom om klagtes in te dien.”

Meer oor:  Genl.Maj. Oswald Reddy  |  Feestyd  |  Polisie  |  Suid-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.