Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Supra ‘geskok’ oor aanval op toeriste in reservaat

Supra Mahumapelo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor toerisme, het sy skok uitgespreek oor Dinsdag se aanval op toeriste waarin ’n swanger vrou dood en haar man ernstig beseer is.

Die voorval het in die Hluleka-natuurreservaat in Ngqeleni in die Oos-Kaap plaasgevind. Matthew en Karen Turner het geslaap toe hulle Dinsdagnag aangeval en verskeie kere gesteek is.

Matthew en Karen Turner Foto: WitnessMedia

Mahumapelo het wetstoepassers versoek om die ondersoek deeglik te doen en die misdadigers so spoedig moontlik aan te keer.

Die voorval volg op ’n gesamentlike werkwinkel tussen die portefeuljekomitee oor toerisme en oor polisie oor die veiligheid van toeriste in Suid-Afrika.

“Die nuus is teleurstellend vir die komitee wat toerisme in nedersettings, klein dorpies en landelike gebiede wil laat herleef,” sê Mahumapelo.

Die komitee het sy medelye met die naasbestaandes van die slagoffers uitgespreek.

Vroeër het Ian Crouch, Karen se ouer broer, aan Jenna Etheridge van News24 gesê dat die egpaar geslaap het toe hulle aangeval is.

Karen (33) is Dinsdag in die vroeë oggendure vermoor en haar man, Matthew, is verskeie kere in die maag gesteek.

“Hy onthou dat hy wakker geword het toe hy in die maag gesteek word. Daar was ’n man aan sy kant van die bed wat hom gesteek het en nog iemand het my suster gesteek,” sê Crouch.

Supra Mahumapelo. Foto: Jabu Kumalo

“Hy kon daarin slaag om die een aanvaller te gryp en daar was ’n stoeiery teen die trap af. Hy kan nie onthou wat daarna gebeur het nie.”

Crouch sê sy suster, wat as ’n onderwyseres aan die Underberg Primary School waargeneem het, was sowat drie maande swanger en het Maandag verjaar.

Hy sê die egpaar en hul seun van 23 maande was na ’n troue op pad en het die week afgevat om tyd saam deur te bring. Hul vriende het in die vakansiehuis langs hulle

tuisgegaan.

Kapt. Dineo Koena, polisiewoordvoerder, sê die buurman het harde geluide in die vroeë oggendure gehoor en aan die egpaar se huis se deur gaan klop.

“Die man het die deur oopgemaak en hy het gebloei. Die vrou was dood en het op haar rug gelê,” sê Koena.

“Daar was geen tekens van gedwonge toegang nie en alles in die huis is omgekeer. Dit was nie ’n rooftog nie, want geen waardevolle artikels is gesteel nie.”

Crouch sê hulle was voor die polisie op die toneel.

“Daar was geen gedwonge toegang nie, maar die groot skuifdeur op die balkon en al die vensters was oop. Jy is in ’n vakansieoord. Enigiemand sou kon inkom,” sê hy.

“Dit was ’n bloedbad. Jy kon sien dit het op die boonste vloer in die slaapkamer begin.”

Crouch sê dat hy Dinsdagaand met Matthew kon praat nadat hy uit die operasieteater in Pietermaritzburg gekom het.

“My suster was plat op die aarde. Hulle het pas by ’n nuwe huis wat hulle saam opgeknap het op die plaas ingetrek,” sê Crouch.

Die polisie sê daar is geen verdagtes in dié stadium nie.

Koena sê Matthew is steeds in die waakeenheid.

“Hy is die enigste een wat ons na die skuldiges kan lei,” sê Koena.

Meer oor:  Hluleka-Natuurreservaat  |  Matthew Turner  |  Supra Mahumapelo  |  Karen Turner  |  Ngqeleni  |  Oos-Kaap  |  Misdaad  |  Toeriste  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.