Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Swaar boetes wag vir dié wat e-tol ignoreer

Die regering wil die knyptang inlê om motoriste met enorme boetes en ander swaar strawwe te dwing om e-tol te betaal.

Boetes vir ’n enkele rit kan duisende rande beloop en motoriste kan hul lisensies verloor.

Die Gautengse e-tolstelsel het in Desember 2013 begin, maar die meeste motoriste weier om te betaal.

Motoriste kan ook hul lisensies verloor.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) is die betalingskoers net 19,58%. In die vorige boekjaar het Sanral ’n skrale R688 miljoen se e-tol ingevorder en die agterstallige geld het al sowat R10 miljard beloop.

Onder die voorstelle in die regulasies tot die Wet op Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto), is dat motoriste met R500 beboet word elke keer wanneer hulle onderdeur ’n tolhek ry sonder om te betaal. Hulle sal boonop ’n R100-heffing moet opdok vir elke boete.

Maatskappye sal ’n boete van R1 000 moet betaal vir elke tolhek.

Die regering wil die regulasies oor nege maande landwyd instel. As dit so aanvaar word, kan ’n retoerrit tussen Pretoria en Sandton ’n motoris wat versuim om tolgeld te betaal R4 000 aan boetes en R800 aan heffings kos. Vir ’n maatskappy sal die boetesR8 000 beloop, benewens die R800-heffings.

Betaal hulle dit binne 32 dae, sal die boete met die helfte verminder word, maar as hulle draai kan nog R1 600 se heffings bykom.

Motoriste wat die boetes en heffings ignoreer, se eNatis-rekeninge sal geblokkeer word met die implikasie dat hulle nie hul voertuiglisensie of rybewyse sal kan hernieu nie, voertuie wat hulle koop kan registreer of voertuie wat hulle verkoop kan deregistreer nie.

E-tol werk met bogrondse strukture wat kameras en ander tegnologie gebruik om te bepaal watter voertuie onderdeur ry. Koste word dan teen die eienaar van die voertuig opgestapel wat hy daarna moet vereffen.

Gautengers het onder meer aangevoer dat dit onbillik is om tol te hef op paaie wat mense daagliks gebruik om byvoorbeeld werk toe en terug te ry, of hul kinders by die skool te gaan optel.

In ’n poging om motoriste sover te kry om die stelsel te ondersteun, het die regering die maksimum e-tol vir ’n ligte voertuig verminder tot R291 per maand, mits hulle binne sewe dae betaal. Motoriste het egter reeds standpunt ingeneem en daar was geen salf aan te smeer nie.

Die Gautengse regering het reeds in 2014 ’n verslag van ’n paneel kenners ontvang wat aanbeveel dat die stelsel geskrap word.

Die premier, David Makhura, het herhaalde pleidooie tot die nasionale regering gerig om weg te doen met e-tol, maar daar het dadels van gekom.

Sanral het wanbetalers aanvanklik probeer opskroef, maar in Maart verlede jaar aangekondig dat hy geen verdere dagvaardings gaan laat uitreik nie.

Sanral wou die tolgeld gebruik om verbeterings aan Gautengse hoofweë aan te bring en die agentskap se finansies is erg geskaad.

Andrea Korff, senior regsprojekbestuurder by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), verduidelik dat die voorgestelde boetes vir die niebetaling van tolgeld neerkom op ’n boete dat die motoris ’n padteken verontagsaam het.

Volgens haar is Outa bekommerd dat boetes outomaties tussen Sanral en die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) wat Aarto bedryf, gegenereer gaan word.

Sanral kan die elektroniese inligting oor wanbetalers op sy paaie aan ’n uitreikingsowerheid verskaf, wat boetes volgens die voorgestelde regulasies per SMS of e-pos kan beteken. So kan duisende boetes daagliks uitgereik word.

Ongeag of die motoris die boodskap ontvang, aanvaar die RTIA binne tien dae ná versending dat die motoris daarvan weet. Tensy die motoris die boete betaal of ander beskikbare opsies uitoefen, eskaleer die proses outomaties.

Sanral het Vrydag teenoor Rapport ontken dat die uitreik van boetes so geoutomatiseer sal word. Die RTIA het dit beaam, maar bygevoeg albei is agentskappe van die department van vervoer wat daarom saamwerk.

Albei sê Sanral sal self nie boetes uitreik nie en sal dus niks van die boetegeld kry nie.

Die uitreikingsowerhede in wie se regsgebiede die paaie val, sal glo die boetes uitreik. Die inkomste word tussen hulle en die RTIA verdeel.

Dít sluit in die metropolisie in Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni.

Outa het reeds die hof genader om Aarto en ook die verwante wysigingswet ongrondwetlik te verklaar, onder meer weens sy kommer oor die “ontoereikende betekening van dokumente”.

Die RTIA en die minister van vervoer, Fikile Mbalula, staan die aansoek teen en geen hofdatum is nog vasgestel nie.

Dit is nog onduidelik wat met die miljarde rande se agterstallige tolgeld gaan gebeur.

Meer oor:  E-Tol  |  Boetes  |  Sanral
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.