Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Swaargewonde boer ontbied hulp ná plaasaanval

’n Swaargewonde skaapboer in Noordwes het Maandag ondanks vyf koeëls in sy lyf self hulp op ’n burgerbandradio ontbied.

Kallie van Heerden (62), wat Maandag omstreeks 16:00 by sy skuur op sy plaas Rooikuil aangeval is, was Dinsdagoggend in ’n ernstige, maar bestendige toestand in ’n hospitaal op Klerksdorp.

Hy sal na verwagting later in die dag geopereer word, het Jaco Marais, voorsitter van die Hartbeesfontein-landbouvereniging, gesê.

Drie plaasaanvallers het hom by die skuur op sy plaas naby Hartbeesfontein ingewag. Hulle het hom oorval en geskiet.

Volgens Marais is dit nog nie duidelik of hy self die plaashuis ingevlug het en of die rowers hom soontoe gesleep het nie.

“Hulle het Kallie in die gewrig, elmboog, skouers, onder sy arm en in sy borskas geskiet.”

Van Heerden se vrou, Thelma, was ten tyde van die aanval op die dorp. Die rowers het vuurwapens uit die kluis en vermoedelik ook geld gesteel.

Hulle het Kallie in die gewrig, elmboog, skouers, onder sy arm en in sy borskas geskiet.

“Ons weet nog nie hoe hulle toegang tot die kluis gekry het nie. Hulle het Kallie in die kamer toegesluit en ook die huis gesluit voordat hulle vermoedelik te voet gevlug het. Kallie het daarna hulp op die burgerbandradio in sy kamer ontbied.”

Marais sê die veiligheidskomitee van die landbouvereniging se gebeurlikheidsplan vir plaasaanvalle het dadelik in werking getree.

“Die bure is eerste na Kallie om hulp te verleen. Die polisie en ambulans is ontbied. Ons veiligheidsvoertuig is ook dadelik na die toneel om dit te beveilig sodat bewyse nie vernietig word nie. Intussen het boere reeds na verskillende punte in die omgewing gegaan en begin patrolleer en inligting ingesamel.”

Marais het Dinsdagoggend gesê hoewel die aanvallers nog nie aangekeer is nie, het hulle inligting bekom.

Kapt. Aafje Bothma, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê ’n saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek. “Drie vuurwapens is gesteel, maar dis nog nie seker of ander items of geld ook vermis word nie.”

Meer oor:  Kallie Van Heerden  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.