Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Swanger vrou vermoor in plaasaanval in KZN

’n Swanger vrou en ma van twee kinders is Saterdagaand vermoor in ’n plaasaanval in Weenen, KwaZulu-Natal.

Zakiyya Ahmedjan (26) se man is ook in die aanval erg aangerand en is in die hospitaal opgeneem. 

Volgens die polisie het drie gewapende en gemaskerde rowers omstreeks 19:00 die gesin se huis binnegedring. 

Hulle het glo deur die kombuisdeur toegang tot die huis verkry.

“Die verdagtes het afgekom op die man in die kombuis. Hy is met ’n mes gedreig en gevra vir geld,” sê kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder.

’n Struweling het tussen die man en die aanvallers ontstaan.

Die plaasmoord in Weenen is die derde plaasmoord in Suid-Afrika sedert Vrydag.

“Een van die aanvallers het die twee kinders na ’n kamer geneem en die vrou na die badkamer. Haar keel is daar met ’n mes afgesny,” sê Gwala.

Die aanvallers het kort daarna gevlug sonder om enigiets te steel.

“Die kinders is getraumatiseerd maar genadiglik nie beseer nie,” sê Gwala.

Hy sê polisie ondersoek ’n saak van moord. “Die saak word met dringendheid hanteer,” sê Gwala.

Christopher Pappas, DA-woordvoerder vir landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het die moord en aanval ten sterkste veroordeel.

“Die DA is erg geskok. Wat hierdie moord soveel erger maak is dat die vrou swanger was,” sê hy.

Pappas sê dit is kommerwekkend dat pres. Cyril Ramaphosa en die regering nie die nodige aandag aan hierdie misdade verleen nie.

“Hoekom bly die president stil oor hierdie moorde en hoekom ontken hy dit? Hoekom word hierdie tipe moorde nie as haatmisdade geklassifiseer nie?”

Pappas sê plaasmoorde en -aanvalle moet prioriteit onder die regering geniet. “Dit is tyd dat die president begin optree,” sê hy.

Hoekom bly die president stil oor hierdie moorde en hoekom ontken hy dit? Hoekom word hierdie tipe moorde nie as haatmisdade geklassifiseer nie?

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê ook dit is kommerwekkend dat die regering doodstil is oor plaasmoorde en -aanvalle.

“Hulle ontken amper dat dit gebeur. Bheki Cele is meer bekommerd oor die mense wat rook, in plaas daarvan om te kyk hoe ons lewens kan red op plase,” sê hy.

Die plaasmoord in Weenen is die derde plaasmoord in Suid-Afrika sedert Vrydag.

“Daar was ook minstens sewe plaasaanvalle gewees, waarvan drie in die laaste 24 uur in KwaZulu-Natal aangemeld is. Dit sluit die een in Weenen in,” sê Cameron.

In die Stanger Manor-omgewing in KwaZulu-Natal is ’n plaasaanval Saterdag aangemeld. “Inwoners van ’n huis is deur twee gewapende rowers aangehou en verskeie items soos selfone, grassnyers, musiektoestelle en geld is geroof,” sê Gwala.

Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Jules Stobbs, een helfte van die bekende Dagga Couple, is Vrydagoggend op sy hoewe naby die Lanseria-lughawe in Johannesburg doodgeskiet. Foto: Verskaf
Die sanger Wynand Breedt is Vrydagaand by sy huis op Fleury Farm in die Robertson-distrik doodgeskiet. Foto: Facebook

Vrydag is berig dat Jules Stobbs, een helfte van die bekende Dagga Couple, op sy hoewe naby die Lanseria-lughawe in Johannesburg doodgeskiet is. Sy lewensmaat, Myrtle Clarke, is nie in die aanval beseer nie.

Twee selfone en twee skootrekenaars is gesteel.

Die sanger Wynand Breedt is ook Vrydagaand by sy huis op Fleury Farm in die Robertson-distrik buite Worcester doodgeskiet.

Na wat verneem word is hy en sy lewensmaat deur ’n gewapende man ingewag by hul huis.

Niks in die voorval gesteel nie.

Meer oor:  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.