SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Misdaad
Swendelaar se slenter kos egpaar 7 ringe

’n Bejaarde Bethuliese egpaar, oud-pastoor Pieter Roodman (81) en sy vrou, Trudy (77), was onlangs die slagoffers van ’n swendelaar wat sewe goue ringe van hulle gesteel het.

Oud-pastoor Pieter Roodman en sy vrou, Trudy, wys die leë houertjie waarin hul goue ringe was. Foto: Coreli Roos

“Ons vertel ons storie in die hoop dat ander uit ons ondervinding sal leer en om terselfdertyd ander teen die skelms te waarsku,” vertel die geskokte egpaar.

“Ons laat nou nie meer mense in ons huis toe wat ons nie ken nie. Ons dogter sê op so ’n manier kon ons ook vermoor gewees het.”

Laat op ’n Maandagmiddag het hy vir die eerste keer aan hul deur kom klop. Hy was te voet. “Het julle dalk enige ou messegoed wat julle wil verkoop?” het die man in Engels kom uitvind. Dit het gevoel asof hy gestuur is. Hulle het lankal besluit dat dit ’n goeie idee sou wees om van hul huisware in kontant om te sit en was opgewonde oor die moontlike geleentheid. “Ja, baie,” het hulle geantwoord. Die man het sy woord gestand gedoen en weer die volgende oggend opgedaag, hierdie keer met ’n pragtige en baie duur lakenstel. “Hierdie is’n geskenk vir julle omdat ek ’n bietjie laat is,” het hy dit sommer met die intrapslag vir hulle persent gegee. Saam het hulle deurgestap na die kombuis, waar hulle die messegoed op die tafel uitgepak het sodat hy kon sien.

Die volgende oggend is hy terug. “Weer te voet, hy het nooit met ’n voertuig gekom nie.” Sy goud-weegskaaltjie het reeds op die kombuistafel gestaan toe hy vra na goue juweliersware. Die tante het hom beveel om te bly waar hy is toe sy omkyk en sien hy volg haar kamer toe om te loer waar sy haar houertjie met haar juwele van goud bêre. Terug in die kombuis, weeg hy die ou horlosiebandjies van goud wat sy aanbied, en sê dis egte goud.

Ondertussen lui sy selfoon ’n paar maal. “Yes, boss, antwoord hy elke keer en druk dan dood.” Hierna oortuig hy ook die egpaar om hul ringe af te haal om dit te weeg. “Hy wou als sien, maar ek het net twee ringe uit die boksie wat ek in die kamer gaan haal het, vir hom uitgehaal.” Toe druk sy die houer waarin die ander ringe is, agter die broodrooster in om dit weg te steek.

Hulle wou nie hul ringe verkoop nie en het so gesê. Hy dring toe daarop aan om die ringe vir hulle skoon te maak, waarna hy dit in ’n vloeistof gooi in ’n onderarm-aanrol-botteltjie wat hy by hom gehad het. Hulle het gehoor hoe ‘die ringe’ in die botteltjie val toe hy dit ingooi. Sy opdrag aan hulle was dat hulle dit vir 45 minute moes toe hou en nie oopmaak nie “dat die skoonmaakmiddel sy werk kon doen”.

Die tante het hom beveel om te bly waar hy is toe sy omkyk en sien hy volg haar kamer toe om te loer waar sy haar juwele van goud bêre.

Die oom gaan uit om ’n koerant te gaan haal toe die man sê hy het ’n stukkie koerantpapier nodig. Nadat hy weer sy foon geantwoord het, sê hy hy gaan die geld by die kitsbank trek. Sy twee selfone en R500 wat hy uitgehaal het, het nog op die tafel by alles gelê toe hy opstaan en sê hy gaan die geld haal. Hy is vinnig gang-af na die voordeur wat hy self oopgesluit het en het homself uitgelaat.

Die Roodmans was bekommerd dat die vloeistof ’n ambersteen in een van die ringe kon beskadig en besluit toe om te kyk. Groot was hul skok toe hulle die botteltjie oopdraai, klippe daarin vind, en besef hulle is beroof.

’n Nog groter skok het gewag toe hulle die houer wat agter die broodrooster versteek was, leeg op die kombuisvloer vind en besef die man het ook daardie ringe in die hande gekry en is weg met al sewe hul ringe van goud wat trou- en verloofringe insluit.

“Ons het ’n klag by die polisie gaan indien en alle moontlike bewysstukke waarop daar vingerafdrukke kon wees, ingegee. Hy het nie sy koffie klaar gedrink nie. Ek was so ontsteld, ek het dit uitgegooi en die beker buite gaan stukkend gooi.” Mense in hul omgewing het vir die egpaar vertel hulle het in dié tydperk ’n ongeïdentifiseerde wit bakkie wat moontlik met die saak verband kon hou, in ’n naburige straat opgemerk, maar die voertuig het soos ’n groot speld verdwyn.

Die bedrieërs was egter nog nie tevrede nie.

Terwyl die tante die volgende dag by die haarkapper is, lui haar foon. “My naam is Govender. CJ was gister by julle en hy het ’n klomp goud gevat, maar ek wil kom onderhandel,” sê hy en lui af.

Toe die verstomde vrou se foon na ’n wyle weer lui, is dit weer “Govender”, maar hy sit dadelik neer toe hy ’n mansstem hoor nadat sy dit oorhandig het aan ’n polisieman wat daar was. Dit was hul laaste kontak met die Govender-spannetjie.

Meer oor:  Trudy Roodman  |  Pieter Roodman  |  Diefstal  |  Swendelaar  |  Sewe Ringe  |  Slenter  |  Egpaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.