Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Swendelaars vas wat tot R250 000 per dag van Eskom steel

Die Valke in die Vrystaat en Eskom het met behulp van talle polisie-eenhede sewe verdagtes in hegtenis geneem wat onwettige kragkoepons aan mense met voorafbetaalde kragmeters verkoop.

Sewe mense is op verskeie plekke in Gauteng in hegtenis geneem in verband met bedrog met kragkoepons.

Lt.kol. Philani Nkwalase, nasionale Valke-woordvoerder, sê die ondersoek, wat in Mei 2020 geloods is, is Woensdag afgesluit nadat lede van verskeie polisie-eenhede, asook spesiale ondersoekers van Eskom saamgewerk het.

Nkwalase sê die spesialiseenhede van die polisie het Woensdag vroegoggend gelyktydig op persele in Gauteng toegeslaan om die mense in hegtenis te neem.

Hy sê die Valke in die Vrystaat het die aanvanklike ondersoek uit Bloemfontein ingestel nadat dit bekend geword het dat onwettige kragverkopers onwettige toestelle gebruik om kragkoepons in die gemeenskap te verkoop. Tussen R150 000 en R250 000 se onwettige kragkoepons is daagliks aan mense verkoop.

Lede van die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad en die digitale ondersoekspan, Eskom se ondersoekspan, die polisie se taktiesereaksiespan, die eenheid vir openbare orde en die misdaadrekordsentrum (PKRS) het saamgewerk.

Nkwalase sê die sindikate het landwyd gewerk en is goed georganiseerd en goed toegerus om die koepons te verkoop.

“Dit was baie moeilik om hulle vas te trek, want hulle het gedurig rondbeweeg en die toestelle is nie aan ’n netwerk of spesifieke plek gekoppel nie.”

Eskom verloor jaarliks miljoene rand weens die onwettige verkope van voorafbetaalde elektrisiteit en dié verliese dra tot die land se kragprobleme by.

Geld, onwettige toestelle, skootrekenaars, luukse voertuie en selfs vuurwapens is by die verdagtes gevind.

Nkwalase sê die inhegtenisnemings kom in ’n tyd wat die land onder erge beurtkrag gebuk gaan.

Een van die verdagtes het ook probeer om die polisie met R100 000 om te koop en hy sal nou ook van korrupsie en omkopery aangekla word.

Daar is op onwettige vuurwapens en ammunisie, skootrekenaars, selfone, SIM-kaarte en sewe luukse voertuie beslag gelê, asook op R714 800 kontant.

Sindikate wat vals kragkoepons verkoop, het tussen R150 000 en R250 000 se koopkrag per dag met behulp van onwettige kragtoestelle geskep en aan mense verkoop. Die polisie het op meer as R700 000 se kontant beslag gelê.

Heelwat koepons en rekords van die bedrieglike transaksies is ook in die sindikaat se besit gevind.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê die ondersoekwerk van die verskeie eenhede was indrukwekkend.

“Ek wil ook aan die gemeenskap vra om op te hou om krag by onwettige handelaars te koop.”

André de Ruyter, hoof van Eskom, het Eskom se ondersoekspan en die Valke vir hul sukses geprys.

De Ruyter sê die eenhede het baanbrekerswerk gedoen omdat die bedrog min of geen moeite verg nie om misdadigers te verryk.

“Dit is van die ergste ekonomiese sabotasie wat daar is en sal help om weer die gemeenskap se vertroue in Eskom te versterk.”

Eskom sal aanhou om met die Valke saam met werk sodat die sindikate se optrede ontwrig en beëindig word.

Die verdagtes sal Vrydag in die landdroshof op Fochville verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.