Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sy seuns uit VSA: Dadda is dapper

‘Dadda, jy is ’n legende en die dapperste mens in die wêreld.”

Tinus Drotské, Naka se broer, by die houtdek waar die rowers ingekom het. Foto: Deaan Vivier

Dít is die boodskap wat Naka Drotské se jongste seun, Tristan (11), uit die VSA aan hom gestuur het toe hy Vrydag hoor sy pa is in ’n rooftog geskiet.

Naka en sy Springbok-spanmaat Os du Randt is Donderdagaand in ’n dramatiese rooftog by Naka se broer Tinus Drotské se huis in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, aangeval.

Naka se seuns, Tristan en Allen (14), kuier by hul ma, Liske, in Texas.

“Allen het reeds uit die vliegtuig vir my ’n WhatsApp gestuur toe hy gehoor het wat met sy pa gebeur het,” het Marzanne, Naka se vrou, gister aan Rapport gesê.

‘Dit wys hy gaan 100% wees.’

“Allen was soos sy pa baie dapper toe hy daarvan hoor. Hy het dadelik Tristan se foon op my versoek in die vliegtuig by hom weggevat sodat hy nie daarvan hoor nie.

“Liske (Naka se gewese vrou) het toe later die nuus aan Tristan oorgedra.”

Naka kan nie uit sy bed in die waakeenheid met sy seuns praat nie, maar Marzanne het ’n foto van hom in die hospitaal vir hulle gestuur.

“Tristan het dit sy profielfoto op WhatsApp gemaak, en die foto het vinnig soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.”

Naka het nog baie pyn, maar hy het gisteroggend al vir die eerste keer regop gestaan toe die hospitaal-personeel vir hom ’n korset aangesit het.

Tinus Drotské, Naka se broer, by die houtdek waar die rowers ingekom het. Foto: deaan vivier

Hy het Marzanne ook gevra om vir hom notas te maak met vrae aan Os oor hul sake-onderneming en hy wou ook sy selfoon en rekenaar hê.

“Dit wys hy gaan 100% wees,” sê sy.

Os het gister op Marzanne se versoek getwiet dit gaan goed met Naka.

Marzanne sê Naka onthou als wat gebeur het.

“Ons het oor als gepraat. My eerste woorde toe ek hom sien, was: ‘My engel, ek is lief vir jou.’ Hy het sy oë oopgemaak en gesê: ‘Ek lief jou meer, bok . . . dankie dat jy hier is.’ ”

Naka sal Woensdag of Donderdag ’n operasie aan sy arm kry. Die dokters kan dit nie vroeër doen nie omdat hy daarvoor op sy maag sal moet lê – en sy buikwond moet eers beter raak.

“As die koeël nie deur sy elmboog is nie, kon dit deur sy hart en longe gegaan het,” sê Mar­zanne.

Die rowers het Naka, Os, Tinus en sy gesin oorval nadat hulle gebraai het. Naka het hulle bestorm en hy is toe twee keer geskiet.

Os, wat ook Naka se sakevennoot by Toptrition is, het met Naka na die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria gejaag.

Op pad soontoe het Naka gedink hy gaan sterf. Hy het Os gevra om vir Marzanne te sê dat hy haar baie lief het. Hy het ook vir hom ’n lys gegee van sy polisse.

Op pad hospitaal toe het hulle ’n ander motor verbygesteek en in ’n middelmannetjie vasgery.

Hulle kon nie verder ry nie, maar Os het ’n motor gestop en die mense gevra om Naka hospitaal toe te vat. Daar was nie plek vir hom nie en hy het toe nog ’n motoris voorgekeer en saam met dié tot by die hospitaal gery.

“Die dokter het vir ons gesê as ons vir ’n ambulans gewag het, sou Naka dit nie gemaak het nie, aangesien hy baie bloed weens die skietwonde verloor het,” sê Tinus.

Die voormalige Springbok-stut Toks van der Linde het gister gesê hy gaan ’n klomp sportmanne bymekaar kry om met die president te gaan praat oor misdaad.

“Die vlak van misdaad in die land is onaanvaarbaar. Iets moet hieraan gedoen word.

“Nie net sportmense moet hierteen opstaan nie. Almal moet asseblief saamstaan en dit beveg,” sê Van der Linde.

Meer oor:  Naka Drotské  |  Kameeldrift  |  Poging Tot Moord  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.