Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Sy was landelike adel, elegant en ’n diep gelowige’
Winnie Rust

Kaapstad. – Winnie Rust was landelike adel, ’n diep intelligente mens en ’n toegewyde gelowige. 

Só is sy gisteraand beskryf nadat die nuus van haar dood bekend geword het. 

Chris van der Merwe, afgetrede professor en Rust se broer, het gesê haar wrede dood is tragies omdat sy nie net werklik naby aan haar gemeenskap geleef het nie, maar dit ook neerslag in haar skryfwerk gevind het. 

“Sy was iemand wat op soveel fronte – as eggenote, ma, ouma en lid van die gemeenskap –  haar veelsydige rol vervul het. Sy was boonop ’n toegewyde gelowige en het veral vir haar kleinkinders geleef.” 

*Breyten Breytenbach, digter en skrywer, het gisteraand per e-pos uit Parys, Frankryk aan Die Burger gesê hy het die verskriklike nuus gekry. 

“Winnie Rust was iemand wat ’n mens in die beste sin as landelike adel sou kon beskryf. Sy was ’n mooi en begaafde vrou – dogter van C.P. van der Merwe, wat die hoof van die Wellingtonse Opleidingskollege was, broerskind van Boerneef, ’n skrywer uit eie reg, betrokke by die gemeenskap op so baie maniere.

“Ek onthou haar as ’n elegante en intelligente mens wat alles veil gehad het vir haar naastes en haar dorpgenote. Die moord kon nie anders as sinneloos en wreed gewees het nie. ’n Mens se hart gaan in alle medelye uit na dr. Manie. Hulle was onafskeidbaar.”

* Theo Kemp, bestuurder van die Breytenbach-sentrum op Wellington, het gesê: “Dit is waar [die Breytenbach-sentrum] ek Winnie en haar man, Manie, goed leer ken het. Hulle het ’n onmisbare rol gespeel om die sentrum destyds tot stand te bring.

“Hulle was ook betrokke by ’n klomp projekte ter bevordering van die dorp en sy mense.

“Ek het laatmiddag gehoor dat sy in haar huis vermoor is. Dis ontsaglik erg. Wellington ween.”

* Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, het gesê: “Ons is geskok en verslae om te hoor dat Winnie Rust vermoor is en ons harte gaan uit na haar man, familie en die gemeenskap waar sy so ’n groot rol gespeel het. 

“Sy het ’n groot liefde vir die geskiedenis gehad en het dit as bronmateriaal in haar romans gebruik.” 

*Dr. Thys Smit, wyksraadslid, het gesê Rust was ’n geliefde mens – nie net waar sy gewoon het nie, maar in die hele Wellington. 

“ ’n Meelewende mens in die gemeenskap en ongetwyfeld ’n uitsonderlike figuur op Wellington. Sy het drie weke gelede geld aan my oorbetaal om ’n gesin wie se informele huisie afgebrand het by te staan. Dit is net een voorbeeld van die bydraes wat sy aan die gemeenskap gemaak het.” 

* Herman Bailey, voormalige burgemeester, het gesê Rust was een van die ikone van Wellington wat sy geskiedenis en mense op haar hart gedra het. “Ons het nou saamgewerk toe sy oor die dorp se geskiedenis geskryf het. Toe ek die nuus van haar dood hoor, kon ek nie glo dat so ’n geliefde mens op so ’n gewelddadige manier van ons weggeneem is nie.” – Johann Maarman, Jo Prins en Murray La Vita.

Meer oor:  Winnie Rust  |  Wellington  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.