Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Taakmag van polisie ondersoek aanvalle op vragmotors

’n Nasionale taakmag van die polisie is besig om die wydverspreide aanvalle op vragmotors te ondersoek.

Meer as 20 vragmotors is sedert verlede week aangeval en aan die brand gesteek en talle bestuurders is beseer.

Maandag is ’n vragmotorbestuurder dood en nog een is met skietwonde in die hospitaal opgeneem ná ’n aanval naby die N3-oprit na Heidelberg in Gauteng.

’n Multidissiplinêre ondersoekspan het Maandag reeds vyf verdagtes op aanklagte van intimidasie in hegtenis geneem. Die verdagtes was deel van ’n groep betogers wat Maandag op ’n vragvervoermaatskappy in Alberton toegesak en op werk aangedring het.

Die ondersoekspan hou volgens kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, ook die belangrikste nasionale roetes dop vir enige verdagte aktiwiteite.

Kort nadat pres. Cyril Ramaphosa Woensdag in ’n verklaring die aanvalle veroordeel het, is berigte ontvang van nog twee voertuie wat aan die brand gesteek is.

Chris Hunsinger, DA-LP en die party se woordvoerder oor vervoer, het ook Woensdag die aanvalle veroordeel en gesê Suid-Afrika se ekonomie kan nie gevangene gehou word deur “opsetlike dade van geweld wat lewens in gevaar stel nie”.

Die aanvalle op vragmotors is deel van die protesoptrede van drie dae om padvervoermaatskappye te dwing om nie buitelandse vragmotorbestuurders in diens te neem nie.

Die organisasie All Truck Drivers Forum and Allied South Africa (ATDFASA) het vroeër in ’n verklaring gesê hy ondersteun so ’n staking en dat hulle onder meer ook beter lone vir vragmotorbestuurders wil beding.

Sifiso Nyathi, sekretaris van ATDFASA, het Woensdag aan Netwerk24 gesê hulle ondersteun egter geen vorm van geweld nie.

“Dit is beslis nie ons lede wat die vragmotors aanval nie,” het Nyathi gesê.

Sy organisasie bestaan uit gewone vragmotorbestuurders wat “moeg is vir die vakbonde wat net praat en niks doen nie”.

Nyathi meen vervoermaatskappye is blatant in hul oortreding van die wet deur buitelanders aan te stel en daar is niemand wat hulle tot verantwoording roep nie.

Dit is beslis nie ons lede wat die vragmotors aanval nie.

Die kwessie sloer al drie jaar, sê Nyathi.

Anele Kiet, adjunk-sekretaris-generaal van die vervoervakbond Satawu, het by navraag gesê onderhandelinge oor die verhoging van die minimum salaris word in Januarie hervat.

Hy sê egter maatskappye wat nie die kode van die nasionale bedingingsraad vir die padvervoer- en logistiekebedryf onderskryf nie, bemoeilik sake.

“Sulke maatskappye verkies om eerder goedkoper arbeid te kry in die vorm van buitelanders en dit maak sake vir ons moeilik,” sê Kiet.

Vumani Mncube, president van die National Driver’s Union of South Africa, sê dié vakbond is moedeloos gesukkel met die regering.

“Ons praat en praat en die regering en sy departement van vervoer doen niks. In al die tyd het nog niks verander nie,” sê Mncube.

Die bedingingsraad sê daar moet in gedagte gehou word dat die bedryf ook swaar getref is deur die koronaviruspandemie.

Talle maatskappye het bestuurders afgelê en hul deure gesluit, het die bedingingsraad in ’n verklaring aan Netwerk 24 gesê.

Volgens hul syfers is daar 6 756 buitelandse vragmotorbestuurders en 44 021 Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders in diens van maatskappye wat by die raad geregistreer is.

Frans Massyn, van Massyn Vervoer, is een van dié maatskappye wat alles in sy vermoë doen om aan die regulasies te voldoen en net plaaslike bestuurders aan te stel.

Buiten vir bestuurders se veiligheid is dit ongelooflik duur om ’n trok en ’n wa te vervang; amper R3 miljoen.

“Ons maatskappy word gelukkig nie regstreeks geraak deur die staking nie, maar dit is byvoorbeeld moeilik om mee te ding met die vervoertariewe wat buitelanders vir veel goedkoper aanstel,” sê Massyn.

Sy maatskappy se vragmotors loop ook die gevaar dat daar dalk verkeerdelik op hul bestuurders geskiet kan word.

“Buiten vir bestuurders se veiligheid is dit ongelooflik duur om ’n trok en ’n wa te vervang; amper R3 miljoen,” sê hy.

Sabelo Mali, woordvoerder van Thulas Nxesi, minister van arbeid, het bevestig dat ’n interministeriële komitee bestaande uit die ministers van vervoer, van polisie en van buitelandse sake aandag skenk aan die staking.

“Dit is ’n komplekse saak en daarom verg dit die aandag van soveel ministers,” het Mali gesê.

Meer oor:  Vragmotors  |  Aanvalle Op Vragmotors  |  Aanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.