Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Taakspan kom teen plaasaanvalle

Die polisie en Agri SA het ’n taakspan gestig wat hom op plaasaanvalle gaan toespits.

So het Vuyo Mhaga, woordvoerder van Fikile Mbalula, minister van polisie, gereageer op die sewe plaasaanvalle van Sondagoggend tot Dinsdagmiddag oor die land heen.

Joubert Conradie (47), ’n boer van Klapmuts in die Wes-Kaap, en Kyle Stols (22), ’n voorman op ’n wildplaas in die Jagersfontein-omgewing in die Vrystaat, is onder andere in dié voorvalle doodgeskiet.

Die minister het sy medelye met die slagoffers uitgespreek, veral met die naasbestaandes van die mans wat vermoor is.

“Minister Mbalula het (verlede week) met Agri SA vergader en ’n taakspan gestig wat op plaasaanvalle gaan reageer en die landelike beveiligingstrategie gaan toepas,” sê Mhaga.

Mhaga het weer benadruk landbou is ’n voorkeursaak vir die minister omdat dit so ’n belangrike rol in voedselproduksie en die ekonomie speel.

“Minister Mbalula het vergaderings gereël met landbouverenigings en plaaswerkers,” sê Mhaga.

Mbalula het Dinsdag die nasionale misdaadsyfers bekend gemaak – skokkende syfers, skryf Agri SA.

“Geweldsmisdaad het die afgelope vier boekjare bly styg. Dit sluit van die misdade in waaraan boere en landelike gemeenskappe die meeste blootgestel word,” sê Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se landelike beveiligingskomitee.

Die plaasaanvallesyfer vir vanjaar staan tot op 22 Oktober op 340, teenoor verlede jaar se 307, luidens statistieke wat deur TLU SA bygehou word. Daar is ook vanjaar reeds 64 plaasmoorde gepleeg, teenoor 55 teen dié tyd verlede jaar.

Die taakspan is egter goed op dreef, sê Breytenbach.

Daar was reeds twee vergaderings en die derde volg in November. Op hierdie vergadering gaan ons praat oor die mensekrag, die beskikbaarheid van voertuie (veral in die landelike gebiede) en die uitvoering van ’n aksieplan.

“Daar was reeds twee vergaderings en die derde volg in November. Op hierdie vergadering gaan ons praat oor die mensekrag, die beskikbaarheid van voertuie (veral in die landelike gebiede) en die uitvoering van ’n aksieplan. Dis maklik om te sê ‘die polisie moet dit of die polisie moet dat’, maar wátter afdeling van die polisie doen wát? Wie aanvaar verantwoordelikheid waarvoor? Dis wat ons in November moet bespreek.”

Volgens Breytenbach is geld ook op die agenda. “Die aanstelling van meer polisielede, of die aankoop van nuwe voertuie, kos geld. Daar is geld beskikbaar, maar dit moet reg aangewend word,” sê hy.

Hierdie taakspan sluit nie plaaswagte en ander gemeenskapsforums uit nie. “Ons gaan nie die wiel herontwerp nie. Die taakspan gaan oor die uitvoering van die aksieplan wat ons gaan opstel.”

Ons wil plaasaanvalle en -moorde voorkom

Die skep van ’n intelligensie-eenheid is ook op die taakspan se tafel. “Ons wil plaasaanvalle en -moorde voorkom. Ons wil nie elke dag in die koerant lees hoe dit reeds plaasgevind het nie. ’n Intelligensiesentrum sal hiermee kan help,” sê Breytenbach.

Hy steun Mbalula wat op die vergadering tussen die polisie en Agri SA benadruk het dat net die staat en die weermag misdaadintelligensie kan dryf. Op die vergadering in November sal dus ook bespreek word hoe hierdie diens uit die wegspringblokke kan kom.

Breytenbach sê die taakspan wil probleme op polisie- en landbouvlak verminder. “Daar is fantastiese polisielede, maar ongelukkig ook dié met traak-my-nieagtige houdings en dis hulle wat sake sommer nie sal aanmeld nie. Daar moet aandag gegee word aan die professionaliteit van die lede. Gelukkig is ’n traak-my-nieagtige houding nie ’n algemene neiging nie,” sê hy.

“Op landbouvlak móét die landelike gemeenskap betrokke raak en ook hulself sover moontlik beveilig. Daar is boere wat nog geen veiligheidstelsels het nie. Rowers gáán so ’n ou teiken.”

Breytenbach herinner aan die Agri Securitas Trustfonds. “Oudpres. Nelson Mandela en ander rolspelers het hierdie fonds reeds in die vroeë 90’s gestig. Daar ís geld beskikbaar om landelike gemeenskappe te beveilig.”

Lees meer oor die sewe aanvalle vandeesweek. 

Meer oor:  Polisie  |  Agrisa  |  Fikile Mbalula  |  Plaasmoorde  |  Taakspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.