Lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid in Khayelitsha het Woensdag ’n oudpolisieman en ’n polisieklerk saam met twee ander mense vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem.
Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die deurbraak is gemaak nadat die lede van ’n gesamentlike taakspan ’n voertuig in ’n stop-en-deursoekingsoperasies in Khayelitsha voorgekeer en deursoek het.

Die vuurwapens waarop die polisie Woensdagaand in Khayelitsha beslag gelê het. Foto: SAPD
In die voertuig is afgekom op ’n ongelisensieerde vuurwapen, waarna die twee insittendes in hegtenis geneem is. ’n Verdere ondersoek het die polisie na ’n huis in Kuyasa, Khayelitsha, gelei.
Daar is op vuurwapens en ammunisie – vier pistole, ’n jaggeweer, ’n haelgeweer, twee nagemaakte vuurwapens en ’n groot verskeidenheid ammunisie vir die vuurwapens – gevind.

Die polisie het ook Woensdagaand op dié ammunisie in Khayelitsha beslag gelê. Foto: SAPD
Die polisie het ook beslag gelê op polisie-uniforms, projektiele, buskruit en ’n toestel wat vuurwapens herlaai.
Nog twee mans is by dié huis in hegtenis geneem.
Potelwa het gesê die vier mans – wat tussen 23 en 26 jaar oud is – sal Vrydag in die landdroshof in Khayelitsha op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie verskyn. Sy het gesê soos wat die saak vorder, kan nog aanklagte bygevoeg word.

Die mans wat Woensdag in Wellington in hegtenis geneem is nadat die polisie vuurwapens, wat in die panele van die taxi versteek was, gevind het. Foto: SAPD
In ’n afsonderlike voorval in die Boland is nege mense ook in hegtenis geneem nadat lede van die Wynland-misdaadvoorkomingseenheid en polisiebeamptes verbonde aan die honde-eenheid in die Boland onwettige vuurwapens in ’n taxi onderskep het.
Volgens Potelwa het die polisie gereageer op inligting van hul intelligensie-eenheid oor onwettige vuurwapens wat in ’n taxi van Ceres na Kaapstad op pad is.
Die taxi is in Wellington gewaar is en uiteindelik in Stokerystraat voorgekeer.

Die polisie het op die vuurwapens en ammunisie, wat in die panele van ’n taxi versteek was, beslag gelê. Foto: SAPD
Die taxi is deursoek en die polisiebeamptes het afgekom op twee pistole met afgevylde reeksnommers, 26 patrone en drie magasyne wat in die panele van die taxi versteek was.
Nege mans tussen 29 en 60 jaar oud is in hegtenis geneem. Hulle is almal van Kaapstad.
Potelwa het gesê die vuurwapens gaan vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in enige misdade gebruik is.
Die mans sal binnekort in ’n plaaslike hof op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie verskyn.