Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Talle mense is die naweek in Port Elizabeth vermoor

’n Tienerseun van Port Elizabeth het Maandagoggend op die lyk van sy pa en ’n vrou in die straat voor hul huis afgekom.

Volgens inligting het die 16-jarige seun omstreeks 02:00 wakker geskrik weens verskeie skote wat buite die huis in Mahambehlalastraat in KwaZakhele afgevuur is.

Die seun was glo te bang om onmiddellik ondersoek in te stel en het eers later die oggend gaan kyk wat gebeur het.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê dit was omstreeks 05:30 toe die seun op die lyke afkom van sy pa, Luvuyo Joseph Nyongoba (51), en ’n onbekende vrou.

Beetge sê die vrou is later as Nonkosi Sylvia Ndevu (39) geïdentifiseer.

Na verneem word, het albei in die straat langs ’n gehuurde Toyota Yaris gelê.

Nyongoba het blykbaar die motor gehuur, maar dit is onduidelik of hulle op pad was iewers heen of net buite die huis gestaan en praat het toe hulle aangeval is.

Ndevu is glo ’n sakevrou van Oos-Londen en volgens inligting is Nyongoba die eienaar van ’n plaaslike konstruksiemaatskappy in die stad wat deel vorm van die klein-, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s).

Verskeie geteikende moorde is die afgelope jaar in die stad met KMMO-kontrakte verbind.

Hoewel Beetge bevestig het dat niks van die man en vrou geroof is nie, ondersoek die polisie alle moontlikhede oor die motief agter die dubbele moord.

In afsonderlike en onverwante voorvalle is nog ses mense sedert Saterdagaand in die stad vermoor.

Volgens Beetge is die polisie Sondag omstreeks 23:25 uitgeroep na Nobatanastraat in New Brighton waar ’n man met verskeie skietwonde in die straat aangetref is.

Die man is as Mfundo Tshundu geïdentifiseer, maar sy ouderdom is nog onbekend.

Hy het skietwonde aan albei sy bene en drie skote in sy nek gehad.

Gemeenskapslede het die polisie gekontak nadat hulle skote in die gebied gehoor het, maar geen ooggetuies het tot dusver na vore gekom nie. Omstandighede oor die moord is ook nog duister, sê Beetge.

Vroeër die Sondag, omstreeks 15:40, is die polisie na die Goven Mbeki-nedersetting in Mtimkulustaat uitgeroep waar ’n man sy broer dood in sy huis aangetref het.

Mnceba Mongcangaza (32) het ’n skietwond aan sy gesig gehad.

Ook in dié geval is die omstandighede onbekend.

Nóg ’n man is Sondag omstreeks 13:10 dood en met ’n skietwond onder ’n brug by die Chatty-kruising langs Uitenhage-weg aangetref.

Mzuvukile Kolisi (25) het ’n enkele skietwond aan sy kop gehad en met sy gesig in ’n plas water gelê.

Verbygaande gemeenskapslede het hom gekry.

Intussen het werkers omstreeks 13:00 in die Motherwell-begraafplaas op ’n verkoolde lyk afgekom.

Beetge sê die polisie vermoed Lungana Ngeleza (23) is deur gemeenskapslede vermoor en aan die brand gesteek. Die rede hiervoor word nog ondersoek.

Sondag om 05:00 is die polisie ook na die Goven Mbeki-nedersetting uitgeroep nadat Melikhaya Nkwenti (41) se ma hom in ’n buitekamer by hul huis in Danostraat aangetref het.

Hy het verskeie steekwonde aan sy nek gehad en het alleen in die buitekamer gewoon.

Die vorige aand, omstreeks 21:45, is Regina Rossouw (23) in Indianstraat in Wells Estate glo deur haar kind se pa doodgeskiet.

Volgens Beetge het Rossouw saam met vriende buite haar huis gekuier toe die man met ’n Volkswagen Polo voor die huis stilhou en op die groep mense buite die huis losbrand.

Rossouw het glo in die straat geval terwyl sy na bure probeer vlug het, waar die man haar glo in die gesig geskiet het. Sy is op die toneel dood.

Volgens Beetge het die man homself later daardie aand in Jeffreysbaai om die lewe gebring.

Dit is onduidelik waar die man en vrou se kind ten tyde van die aanval was.

* Die bogenoemde sake word deur die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid ondersoek en enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, kan lt.kol. Willie Mayi by 082 697 5914 bel.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Polisie-Ondersoek  |  Misdaad  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.