Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Talle Somaliërs in Bellville ontvoer

“Laat ek jou een ding sê: Ek belowe jou ek sal tot by daai winkel kom en julle almal vrek skiet. Moenie my vir ’n gat vat nie. Ek het nie tyd vir speel nie!”

Toe die familie van ’n ontvoerde Somaliër dié dreigoproep van die winkeleienaar se ontvoerder hoor, het hulle summier geld bymekaargemaak en derduisende rande as losprys betaal.

Een van die talle Somaliërs wat ’n winkel in Durbanweg, in Bellville se sakekern, bedryf. Foto: Edrea du Toit

Die ontvoering van veral Somaliese sakelui in die besige sakekern van Bellville, in Kaapstad se noordelike voorstede, neem sulke afmetings aan dat die Wes-Kaap se polisiekommissaris ingegryp het. ’n Komitee met verteenwoordigers van die polisie, Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid, nasionale vervolgingsgesag, Kaapstad-metro en die sakesektor moet dié afpersing en ontvoerings probeer hokslaan. Die lede vergader weekliks om die jongste neigings en ’n gesamentlike reaksie te bespreek.

Die sindikate ontvoer veral sake-eienaars in die besige Durbanweg, tussen Voortrekkerweg en die Bellville-treinstasie, en eis miljoene rande as losprys.

Tien mense staan in die Bellville-landdroshof tereg weens die beweerde ontvoering van ’n 47-jarige Somaliese sakeman en die diefstal van ’n groot bedrag kontant, asook selfone. Dit volg nadat ’n slagoffer in ’n huis in Nyanga opgespoor en ontset is.

Volgens brig. Novela Potelwa, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, hoop hulle die tien se inhegtenisneming, asook dié van drie mense in Botrivier, tussen Grabouw en Caledon, sal help om dié misdade te stuit. Dié drie het glo ’n sakeman vir R300 000 probeer afpers.

‘Hulle weet Somaliërs het baie kontant.’

Polisielede, onder wie speurders en lede van die bende-eenheid, het hulle vasgetrek en beslag gelê op kontant, selfone, twee voertuie, bankkaarte en verskeie selfoonlugtydkaarte.

Potelwa sê gevalle van afpersing kom oor die hele Wes-Kaap heen voor en die slagoffers meld dit nie altyd aan nie, derhalwe is ’n noodlyn (021 466 0011) ingestel.

In Februarie is ’n ontvoering deur kringtelevisiekameras opgeneem. Dit wys hoe mans in twee voertuie by ’n Somaliër se winkel in Bellville opgedaag en hom gryp.

Een van die ontvoerders het die man se familie gebel en in dié gesprek – wat opgeneem en op sosiale media versprei is – R1 miljoen geëis. In die opname vra hy wanneer kan die familie die geld bring, maar ’n familielid, net bekend as Achmat, sê hy kan nie dit bekostig nie en R1 miljoen is hopeloos te veel.

Dit beïndruk die ontvoerder nie en hy vra twee keer hoeveel kan Achmat gee. Achmat sê hy moet eers met die familie praat, waarop die ontvoerder sê: “Maak seker jy bring nie minder as R500 000 nie.”

Dis dan wanneer die man byvoeg hy sal “julle almal vrek skiet”.

Volgens die polisie het die familie wel die losprys betaal.

Rapport het Durbanweg Vrydag besoek en dit het gewemel van voertuie wat voorraad by die rye winkels aflaai. Saans wemel dit eweneens soos spazawinkels in die streek voorraad kom haal. Winkeleienaars wou nie oor die afpersing en ontvoerings gesels nie.

Shaun Trytsman, die bestuurder van ’n winkelsentrum in Durbanweg, sê die Somaliërs sal nie praat nie. “Indien gevaar dreig, staan hulle soos een man saam en sal selfs geld bymekaarmaak om ’n groot losprys te betaal.

“As jy van hulle steel . . . Moenie van hulle steel nie, want hulle sal vir jou kom. Mense weet die Somaliërs het groot geld in kontant en dat hulle nie papiere het om in die land te wees nie, dan word hulle afgepers.

“Somaliërs koop nou selfs eiendom.

“Bellville word nou selfs ‘Somalië-stad’ genoem.”

Volgens J.P. Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sal die stad druk op die polisie uitoefen om met sy ondersoeke vol te hou sodat die sindikate uitgewis word.

“Dit raak noodsaaklik om ’n groeiende neiging tot afpersing te stuit.”

Wade Seale, ’n woordvoerder van adv. Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê dié kantoor beywer hom al lank vir die vestiging van ’n “afpersing-aanvoorkomitee” en is verheug oor die getal inhegtenisnemings wat reeds gemaak is.

Bheki Cele, minister van polisie, het op ’n onlangse besoek aan die Wes-Kaap gesê die polisie ondersoek sedert die begin van die jaar 106 sake van afpersing. Dít en ontvoerings is aan die toeneem. Volgens hom teiken die afpersers graag restaurante, kroeë, boupersele en die vervoerbedryf.

Drie polisiebeamptes is onder dié wat van afpersing verdink word en selfs lede van ’n adjunkminister se beskermingseenheid.

Meer oor:  Bellville  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.