Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tande, bloed van boer op grasperk gevind

Boere van Dendron, noord van Polokwane, wat hulle na die toneel van ’n plaasaanval gehaas het, het eerste op die uitgeslaande tande en ’n bloedkol van Basie Nelson op die grasperk buite sy huis afgekom.

Hannes van der Walt, ’n plaasvoorman, sê hy glo as die boere tien minute later op die toneel opgedaag het, was Nelson dood.

Nelson is in ’n kritieke toestand in die hospitaal in Polokwane opgeneem en het teen Donderdagmiddag nog om sy lewe geveg.

Dit was verskriklik om die huis te sien, dit lyk soos ’n oorlog. Dit lyk net soos wat hulle in die boek Bloedsusters beskryf.

Van der Walt sê Nelson is Woensdagaand omstreeks 19:10 aangeval. Nelson woon aangrensend aan die Lemoenfonteinpad naby Dendron in Limpopo.

Die aanvallers het ook twee werkers van Nelson, ’n wewenaar, oorval en vasgebind. Die een werker, wat in die skaapkraal vasgebind is, kon homself bevry en het by plaaswerkers op ’n buurplaas gaan hulp soek.

Boere het hulle na die plaas gehaas.

Van der Walt sê die hele huis was met bloed besmeer. ’n Bloedspoor, soos Nelson deur die huis gesleep is, bebloede meubels en bloedkolle was oral te sien.

“Dit was verskriklik om die huis te sien, dit lyk soos ’n oorlog. Dit lyk net soos wat hulle in die boek Bloedsusters (wat handel oor die skoonmaak van misdaadtonele) beskryf,” het ’n geskokte Van der Walt gesê.

“Dit is die eerste keer dat ek so ’n toneel sien.”

Nelson, wat ’n plaaswinkeltjie bedryf, is met ’n hamer oor sy kop geslaan en sy een arm is erg beseer waar hy met ’n kapmes gekap is. Sy een oog is ook erg beseer.

Die kluis in die huis is uit die muur geruk en die rowers het dit met sy plaasbakkie probeer stukkend ry.

’n Elektriese boor en hoekslyper het naby die kluis gelê, sê Van der Walt.

Die mans kon nie die kluis oopkry nie en die bakkie het nog bo-op die kluis gestaan toe die plaaslike boere op die toneel opdaag.

Van der Walt het met ’n spoorsnyhond gehelp soek. Hy sê hulle is vermoedelik vroeër die dag op die grootpad naby die plaas afgelaai.

“Hulle het te voet van die plaas af gevlug en een van hulle, seker die een wat die minste bloed aan hom gehad het, het by ’n winkel by ’n vulstasie gaan koekies en koeldrank koop,” sê Van der Walt.

Die man is op kringtelevisiekameras by die vulstasie afgeneem.

Van der Walt sê as ’n mens inzoem, kan jy sien die man se een mou is met bloed besmeer; hy glo dus die man is een van die aanvallers.

Hy sê Nelson se huiswerker was ook vermis, maar sy is later opgespoor waar sy in ’n geskokte toestand weggekruip het.

Meer oor:  Hannes Van Der Walt  |  Basie Nelson  |  Dendron  |  Polokwane  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.