Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tandpyn laat 2 in sel beland
Brett Otto, links wie se gesig nie verbloem is nie, en Anton Buys, in die rooi, by die polisiekantoor. Die mans het voordat hul Dinsdag hof toe geneem is, hul fone teruggekry en van die foto’s geneem om te wys hoe hulle aangehou is. Van die mense dra nog hul eie maskers wat hul aangehad het tydens arrestasie.Foto: Verskaf
Die regulasie waaronder Anton Buys en Brett Otto glo gearresteer is.

’n Man en sy stiefseun gaan die polisie dagvaar vir onregmatige inhegtenisneming en aanhouding nadat hulle Maandag op pad terug van ’n nood-tandartsafspraak summier in hegtenis geneem is.

Die polisiesersant het glo net volgehou dat Anton Buys (55) en Brett Otto (27) op straat is terwyl die regulasies van die staat van inperking beveel dat almal moet tuisbly.

Ná ’n nag in die selle van die Boksburg-Noord-polisiekantoor saam met minstens 20 ander aangehoudenes is die saak die volgende dag nie eens op die hofrol geplaas nie.

“Ons gaan beslis regsaksie teen die polisie neem,” sê hul prokureur, Hugo van der Westhuizen.

So lyk die polisiesel waarin Anton Buys en Brett Otto saam met nog 20 mense aangehou is, juis omdat hul glo die staat van inperking se regulasies in verband met Covid-19 verbreek het.Foto: Verskaf

Ook hy het daardie Maandagaand, gewapen met die Grondwet, die Strafproseswet en die regulasies van die staat van inperking ’n verlore stryd gestry om sy kliënte op na-uurse borgtog los te kry.

Volgens Van der Westhuizen het Buys sy stiefseun Maandag net ná 12:00 na die tandarts in Boksburg geneem omdat hy erge pyn gehad het. Hulle het ’n afspraak vir later die middag gehad en dokumentasie om dit te bewys.

Ná ’n nag in die selle saam met nog minstens 20 ander aangehoudenes, is die saak die volgende dag nie eens op die hofrol geplaas nie.
Geen behoorlike afstand kon tussen die gearresteerdes in die polisievangwa gehandhaaf word waar hulle hof toe geneem is nie. Foto: Verskaf
Anton Buys (55) wat juis afgetree het om na sy siek vrou om te sien.
Brett Otto (27)

Op pad terug het hulle by ’n apteek gestop vir pynmedikasie. Nie lank daarna nie het hul voertuig vermoedelik oorverhit en Buys het van die pad af getrek.

“ ’n Polisievoertuig het agter hulle gestop. ’n Sersant het nadergekom en hulle glo verskree omdat hulle daar staan en nie by die huis is nie. Hulle is toe na Boksburg-Noord se polisiekantoor geneem,” sê die prokureur.

Die polisie het Buys se vrou, ’n kankerlyer, gebel om hul voertuig te kom haal. Sy moes ’n Uber neem om van hul huis in Germiston na die polisiekantoor te gaan.

“Sy en die Uber-bestuurder is byna ook sommer in hegtenis geneem omdat hulle ‘rondry’,” sê Van der Westhuizen.

Hy is gekontak en het na die polisiekantoor gegaan. Daar is hy ingelig dat die stasiebevelvoerder glo opdrag gegee het dat niemand na-ure borgtog mag kry nie.

“Luidens die huidige direktiewe kragtens die regulasies onder die Wet op Rampbestuur van 2002 moet ’n persoon wat vir ’n geringe misdryf in hegtenis geneem word, vrygelaat en gewaarsku word en op ’n latere datum in die hof verskyn.

“Daarby moet polisielede en aanklaers, wanneer nodig, ingevolge die Strafproseswet borgtog vasstel, of indien nodig, die persone op waarskuwing vrylaat.

“Die polisie het dus ’n diskresie om uit te oefen en kan nie bloot aandui dat borgtog na-ure ’n saak van onmoontlikheid is nie,” sê Van der Westhuizen.

Hy het die bevelvoerder gebel en hom op die regulasies gewys.

“Ek het vir die bevelvoerder gesê, ‘met respek, kolonel, u maak ’n fout’. Toe antwoord die kolonel almal leer maar en as hy môre besef dit was ’n fout, dan het hy mos geleer,” sê die prokureur.

Daar was 23 mans in die sel van 20 m x 20 m. Dit was onhigiënies. Niemand is handreinigers of maskers gegee nie.
Prokureur

Van der Westhuizen is ook eers toegang tot sy kliënte in die sel geweier, want “lede van die publiek” mag glo nie daarheen gaan nie.

Hy moes lank verduidelik dat regsverteenwoordigers nie onder daardie beskrywing val nie.

“Daar was 23 mans in die sel van 20 m x 20 m. Dit was onhigiënies. Niemand is handreinigers of maskers gegee nie. Daar was enkeles wat hul maskers, waarmee hulle in hegtenis geneem is, by hul gehad het.

“Dit was onmoontlik om die voorgeskrewe afstand van mekaar daarbinne te handhaaf. So, iemand word in hegtenis geneem omdat hy in die tyd van Covid-19 op straat vir ’n mediese probleem is, maar word dan só aangehou?

‘Dís die korrekte prosedure’

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê Buys en Otto is aangekla van ’n oortreding van die Rampbestuurwet se regulasies omdat hul nie hulself in hul huis ingeperk het nie.

Volgens Naidoo is die korrekte prosedure, sou die polisie iemand buite hul huis betrap, dat die geregsdienaar die mense versoek om hulself tot hul blyplek te beperk, en indien ’n persoon nie daaraan gehoor gee nie, “mag die polisiebeampte die persoon ingevolge die regulasies in hegtenis neem”.

In dié geval was dit ’n sersant met 19 jaar diens as polisielid.

Oor die beweerde omstandighede waarin die mans aangehou is, sê Naidoo dat die aanhoudingselle ontsmet word en die aangehoudenes voor hul aanhouding ’n siftingstoets ondergaan.


Volgens hom is dit ’n staande bevel dat verdagtes eers in ’n hof moet verskyn waar die hof dan sal bepaal of hulle op borgtog vrygelaat kan word.


Hy sê dat regsverteenwoordigers te alle tye toegelaat word om met hul kliënte in ’n polisiekantoor te konsulteer, afhangend of hulle ’n register met hul praktyk se besonderhede ingevul het.


Naidoo sê die “verdagtes” kan ook ’n amptelike klag oor die aangeleentheid aanhangig maak.




“My kliënte sê die meeste van die mense daarbinne is op een dag vir dieselfde misdryf deur dieselfde sers. Bester gevang. Die Dinsdagoggend is almal saam in ’n vangwa, steeds sonder beskermende toerusting, hof toe geneem. Daar het die staatsaanklaer nie eens hul saak op die hofrol geplaas nie, want daar was nie ’n saak teen my kliënte nie,” sê Van der Westhuizen.

Die prokureur sê hy verstaan die polisie is onder geweldige druk, en stem saam dat mense nie onnodig buite moet wees nie.

“Hulle moet egter onthou dat hulle nie met geharde misdadigers te doen het nie, maar met die mense wat hulle as die polisie moet dien. Pleks luister hul net wat die pa en seun verduidelik. Ek het ook die polisie die geleentheid gegee om die skade van die onregmatige aanhouding te beperk deur borgtog vas te stel.

“Ek het hulle verwys na die Strafproseswet en die staat van inperking se regulasies, maar niemand wou luister nie,” sê die prokureur.

• Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die department van gesondheid, het bevestig dat ’n tandarts ’n “noodsaaklike mediese diens” is.


Meer oor:  Korona  |  Inperking  |  Inhegtenisneming  |  Covid 19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.