Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tawwe broerskind van DA-leier in VS verwilder aanvallers

Plaasaanvallers sal in die toekoms twee keer dink voordat hulle die tawwe Tyla Jankielsohn (23), ’n passievolle perderuiter en -afrigter, by haar plaashek inwag.

Die dapper Jankielsohn, wat al verskeie kere aan die Suid-Afrikaanse Saalperdkampioenskap op die Bloemskou in Bloemfontein deelgeneem het, het twee vermeende plaasaanvallers Maandagmiddag tweede laat kom toe sy hulle geskop, met vuis in die gesig geslaan en gekrap het toe hulle haar by die hek van die plaas Hollandia in die Marquard-distrik in die Oos-Vrystaat ingewag het.

Jankielsohn, broerskind van dr. Roy Jankielsohn, nuut verkose DA-leier van die Vrystaat, sê behalwe vir ’n paar gebreekte ribbes en slaan- en krapmerke aan haar gesig en hande, gaan dit goed met haar.

Tyla Jankielsohn (23) het twee aanvallers die aftog laat blaas toe hulle haar by ’n plaashek aanval. Foto: Facebook

“Ek is ’n bietjie oorspanne en op my hoede, maar nie meer so geskok soos wat ek aanvanklik was nie. My lyf is net baie seer.”

Jankielsohn sê sy was Maandagmiddag op pad om na die dorp te ry toe sy uit haar bakkie klim om die hek agter haar toe te maak.

“Toe ek omkyk, staan twee mans met balaklavas aan agter my. Die een het my gegryp en op die grond neergegooi sodat ek op my maag geval het. Ek het besef ek moet gou omdraai op my rug sodat ek myself kan verdedig.

“Hulle het my geskop en ek het so hard teruggeskop dat die een teruggeval het, wyl ek die ander een gebruik het om myself van die grond af op te trek. Ek het hom met ’n harde vuishou in die gesig geslaan, waarna hy ook gesteier het.”

Sy sê sy het hierna in haar bakkie gespring wat nog aangeskakel was en van die toneel gevlug om hulp te gaan soek.

Jankielsohn sê sy het geen formele opleiding in selfverdediging nie, maar met drie ouer broers moes sy gou leer om taai te wees en haarself te verdedig.

Jankielsohn sê sy het by die bure, Mark en Lily Campbell, gaan hulp soek en bly ook nou vir eers by hulle.

Sy bly die afgelope twee en ’n half maande alleen op Hollandia waar sy as perde-afrigter na 17 perde vir die twee buitelandse eienaars van onderskeidelik Australië en Engeland omsien.

Tyla Jankielsohn neem gereeld aan die Suid-Afrikaanse Saalperdkampioenskap op Bloemskou in Bloemfontein deel. Foto: Facebook

Jankielsohn sê die polisie het twee mans Dinsdag in hegtenis geneem, maar sy dink nie dit is die regte mans nie, want nie een van hulle het krapmerke in die gesig nie.

Jankielsohn het in Bethlehem en Clarens in die Oos-Vrystaat grootgeword en ’n paar jaar gelede saam met haar ouers na KwaZulu-Natal verhuis.

Jankielsohn se pa, Mark, het uit KwaZulu-Natal aan Netwerk24 gesê hy en sy vrou, Margie, is op pad na Marquard en gaan hul dogter haal.

“Ons was heeltyd so bekommerd oor haar daar alleen op die plaas en ek het net heeltyd vir haar veiligheid gebid. Ons is baie dank aan die Marquard-boere verskuldig wat gehelp het.”

Campbell, die buurman, sê hy wil graag weet wie en wat agter die aanval sit.

“Ek is Tyla se ‘tweede pa’ en het nou slotte aan al die hekke gesit. Die kind slaap nou snags by my en my vrou en ek gaan haal haar ná werk.”

Roy, Tyla se oom, sê dit was vir die familie ’n geweldige skok.

“ ’n Mens dink altyd dit gebeur met ander mense. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning vanuit die plaaslike landbougemeenskap aan haar. Ons is trots op die Vrystaatse landbougemeenskap wat baie goed georganiseerd is en wat veiligheidsplanne het om sulke gevalle te hanteer, veral van die afwesigheid van die staat wie se hoofdoel dit is om mense te beskerm.

“Tyla is ’n voorbeeld vir alle jong vroue in die tydperk van 16 dae van aktivisme teen vroue en kinders. Sy het gewys dat ons vroue taai is en dat hulle kan terugveg.”

Meer oor:  Aanvallers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.