’n 54-jarige taxi-bestuurder is in hegtenis geneem op ’n reeks verkeersklagtes nadat hy glo Kaapse wetstoepassers by ’n padblokkade wou omry in ’n poging om die polisie te ontduik.

Die taxibestuurder wat Vrydag ná ’n jaagtog vasgetrek is.Foto: Verskaf
Wayne Dyason, ’n woordvoerder van die Kaapstadse metroraad, het gesê wetstoepassers van die stad en die Grassy Park-polisie was Vrydagoggend omstreeks 07:00 besig om ’n padblokkade op die hoeke van Ottery- en Ou Strandfonteinweg te beman toe die bestuurder van ’n wit Toyota Quantum-taxi geweier het om stil te hou.
“Hy is gevra om af te trek, maar die bestuurder het geweier om te stop en het die SAPD en die wetstoepassers amper omgestamp in ’n poging om weg te kom,” sê Dyason.
“Die bestuurder het oor drie rooi ligte gejaag, op die sy-kant van die pad gery en amper sewe ongelukke veroorsaak toe hy padgebruikers van die pad probeer afdwing het.”
Volgens Dyason is die verdagte uiteindelik in die Fazeka- informele nedersetting vasgetrek.
By die polisiekantoor is vasgestel dat die bestuurder R19 400 se uitstaande boetes het en dat dubbele lasbriewe teen hom uitgereik is.
Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, word die verdagte deur ’n reeks aanklagte in die gesig gestaar, insluitend roekelose en nalatige bestuur, versuim om by ’n padblokkade te stop, die in gevaar stel van die lewens van polisiebeamptes en lede van die publiek, verset teen inhegtenisneming en die feit dat hy ongelisensieerd is.
Rwexana sê die man sal Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn.