’n Taxibestuurder is Woensdag helder oordag by die Kranskop-tolplaza langs die N1-hoofweg in Limpopo doodgeskiet.
Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die taxi was in ’n suidelike rigting van Polokwane op pad na Gauteng.
Die taxi het omstreeks 10:30 by die Kranskop-tolplaza naby Modimolle stilgehou sodat die passasiers die kiosk kon besoek.
Ngoepe sê toe van die passasiers en die bestuurder terugkeer na die taxi, waar dit in die parkeergebied gestaan het, het twee gewapende mans toegeslaan.

Die koeëlgate in 'n taxi waarin die bestuurder Woensdag in Limpopo doodgeskiet is. Foto: SAPD

'n Taxibestuurder is Woensdag by die Kranskop-tolplaza in Limpopo doodgeskiet. Foto: SAPD
Een van hulle het ’n pistool gehad en die ander een ’n geweer.
Hulle het die taxibestuurder koelbloedig doodgeskiet.
Die twee gewapende mans het in ’n rooi Volkswagen Polo met ’n onbekende registrasienommer gevlug.
Niemand anders is in die skietery beseer nie.
Ngoepe sê die man se naam sal bekend gemaak word sodra al sy familielede in kennis gestel is.
’n Uitgebreide soektog is begin na die moordenaars.
Enigiemand met inligting kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 bel.