Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Taxi-eienaar voor dogters geskiet; kind (5) getref

’n Lid van die Cape Coloured Congress (CCC) van wyk 25 is Donderdagaand voor sy twee dogters in Elsiesrivier, Kaapstad, doodgeskiet.

Angelo Amin Kube was ook ’n taxi-eienaar. Sy vyfjarige dogter is twee keer raak geskiet en is in die Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem, terwyl sy 12-jarige dogter glo lig beseer is.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend gesê die Ravensmead-polisiekantoor ondersoek ’n saak van moord, twee sake van poging tot moord, asook roof.

Angelo Amin Kube is Donderdagaand ten aanskoue van sy twee dogters doodgeskiet. Foto: Facebook

Die skietvoorval het omstreeks 18:30 in Donegallaan plaasgevind.

“ ’n 44-jarige slagoffer is met skietwonde dood aangetref in ’n Toyota Avanza. Twee meisies van onderskeidelik vyf en 12 jaar oud is beseer en na ’n nabygeleë hospitaal geneem,” sê Van Wyk. Volgens hom is die motief vir aanval nog onbekend.

Ibrahim Paulse, ’n oom van Kube se vrou, sê die paartjie se voertuig is aangeval terwyl hulle soos gebruiklik gery het om samoesas en koesisters in Donegallaan te gaan oplaai. Toe die vrou ingaan om die gebak te gaan kry, het die aanvallers op die voertuig toegesak, sê Paulse.

Volgens hom was daar drie aanvallers, van wie minstens twee vuurwapens gehad het.

“Angelo het ook sy vuurwapen gehad en het probeer terugskiet, maar was onsuksesvol. Hulle het sy vuurwapen saam met hulle gevat,” sê Paulse. Hy meen die vuurwapen was dalk die motief vir die aanval.

“Hulle het sy vyfjarige dogter in die rug en bors geskiet. Wie doen dit?” vra hy.

Fadiel Adams, leier van die CCC, sê hy het omstreeks 19:30 Donderdag van die voorval gehoor.

“Ons was almal geskok. Om te dink dat ’n mens ’n man voor sy kinders skiet en dan die vuurwapen op sy kinders draai? Dit is ondenkbaar!”

Adams sê die polisie moet die saak met dieselfde dringendheid hanteer as wat hulle lt.kol. Charl Kinnear se moord hanteer het.

“Ons moet iets hieraan doen. As die polisie nie iets hieraan gaan doen nie, moet die gemeenskap iets doen.

“Mense wat sulke goed doen, moet gehanteer word soos honde wat mense byt – hulle moet afgesit (van kant gemaak) word.”

Adams sê al wat die aanvallers gevat het, is Kube se vuurwapen.

“Dit is al wat ’n mens se lewe op die Kaapse Vlakte werd is deesdae. Ons raak nou moeg. As die skietery nie ophou nie, gaan ons die mense in die strate uitbrand,” sê hy.

Adams wens die familie alle sterkte toe en sê Kube was “ ’n man wat altyd geglimlag het.

“Hy was passievol oor mense. Ons gaan hom baie mis.”

Van Wyk sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Speurders volg alle leidrade op om die oortreders te vang.”

Meer oor:  Elsiesrivier  |  Kaapstad  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.