’n Durbanse huurmotorbestuurder wat glo minstens 18 passasiers beroof het, is danksy ’n boodskap op sosiale media en ’n foto op Facebook aangekeer.
Brem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), sê ’n vrou wat al ’n paar keer van die man se dienste gebruik gemaak het, het Dinsdag weer saam met hom in Glen Anil, Durban-Noord, gery.
Hy het nie reguit Phoenix toe gery waar die vrou woon nie, maar ’n ander roete gevolg. Toe sy hom hieroor uitvra, het hy gesê hy moet iewers stop.
Die bestuurder het ’n ent verder ’n man opgelaai wat toe glo ’n handwapen op die vrou gerig en haar van haar handsak, juweliersware, selfoon en kantoorsleutels beroof het.
Sy is langs die pad afgelaai en ’n verbygaande motoris het haar ’n geleentheid tot in Umhlanga gegee, waar sy Rusa gebel en hulp ontbied het.
Die vrou het die veiligheidswagte ingelig dat die man gereeld verskillende voertuie gebruik.
Sy het egter haar ervaring op sosiale media gedeel en ’n groot groep mense het toe gesê dat hulle glo ook deur die man en sy handlanger beroof is.
Een slagoffer het selfs vertel hoe die man glo haar kind met ’n vuurwapen geslaan,en haar en die kind langs die pad afgelaai het.
Balram sê die man en sy medepligtige het na bewering minstens 18 mense op soortgelyke wyse beroof en van die slagoffers kon danksy ’n internet-speurtog ’n foto van hom op Facebook vind.
Dié foto is versprei en ander huurmotorbestuurders het met inligting na vore gekom, waarna die man in Phoenix vasgetrek is.
Hy sal binnekort in die hof verskyn, volgens Balram.