Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Taxigeweld: Alle oë op vergadering Woensdag
Honderde pendelaars het Woensdagoggend by die ingang na Nyanga by die Borcherds Quarry-afrit in die reën gewag vir Golden Arrow-busse wat hulle werk toe kon neem. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Taxibestuurders in Kaapstad en die Boland hoop dat ’n vergadering Woensdagmiddag tussen leiers van die taxiverenigings Cata en Codeta en die provinsiale departement van vervoer en openbare werke ’n oplossing vir die voortslepende taxigeweld sal bring.

Daar is Woensdag geen nuwe voorvalle van taxigeweld aangemeld nie. Die vergadering het omstreeks 15:00 begin.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het Woensdag die toename van polisie- en wetstoepassingsbeamptes in Kaapstad en dele van die Boland verwelkom. “Ons verwelkom die kalmte. Ons inwoners verdien niks minder nie.”

Fritz sê hy raak ontsteld as hy daaraan dink dat inwoners nie eens werk toe kan pendel sonder om in die kruisvuur van strydende taxiverenigings te beland nie. “Die aanhitsers dink nie aan die gevolge van hul optrede nie.”

Fritz het Dinsdagaand met ’n petroljoggie gepraat wat alleen aan diens was.

Pendelaars wag by die ingang van Nyanga op busse. Daar is geen taxidiens in dele van Kaapstad nie ná hernude taxigeweld tussen die taxiverenigings Cata en Codeta. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

“Hy het gesê sy kollegas is te bang om te reis. Outomaties is daardie onderneming en hul werksekerheid blootgestel. Die taxigeweld het verreikende gevolge en dit moet tot ’n einde kom.”

JP Smith, burgemeesterskomiteelid van die Kaapstad-metro vir veiligheid en sekerheid, het Woensdag gesê hy het by verskeie taxistaanplekke besoek afgelê en dit was redelik stil daar.

“Die metroraad se wetstoepassingsbeamptes is by al die taxistaanplekke en openbarevervoer-wisselaars wat geraak word.”

Hulle deursoek voertuie vir vuurwapens en maak seker dat taxi’s wat wel daar diens lewer, dit wettig doen.

“Ons eerste prioriteit is die veiligheid van die publiek,” sê Smith.

Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, sê hy en Alan Winde, premier, sowel as die polisie se provinsiale bestuur, het Woensdag die gesamentlike operasionele sentrum besoek, waar hulle ingelig is oor planne om die veiligheid van pendelaars te verseker.

Die Golden Arrow-busdiens het bykomende busdienste ingestel om te help om gestrande pendelaars by die huis te kry, sê Mitchell.

Inwoners van Nyanga staan op ’n oop stuk veld by die Borcherds Quarry-afrit en wag op Golden Arrow-busse om hulle werk toe te neem. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Intussen is minibustaxidienste in groot dele van Kaapstad egter nog beperk.

Daar is nog geen minibustaxi-diens tussen Mbekweni en Bellville nie.

Minibustaxi-bestuurders werk egter in die Paarl.

Daar is ’n beperkte diens van Khayelitsha, Nyanga en Langa na die Bellville-openbarever-voerwisselaar.

Van Eersterivier en Kuilsrivier af is daar ’n beperkte diens tot in Bellville. Pendelaars word in Robert Sobukwe-weg afgelaai. Daar is ook beperkte diens op die Kaapstad-roete na Bellville en die Delft- en Belhar-roete na Bellville. Pendelaars word in Caledonweg afgelaai.

Kronkelende rye mense wag Woensdag op Golden Arrow-busse. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Golden Arrow-busdienste is ook nog beperk tussen Langa en Bellville, met slegs minibustaxi’s wat nie lid is van Cata of Codeta nie wat tans daar diens lewer. Golden Arrow-busse vervoer egter pendelaars tot by Borcherds Quarry.

In Mitchells Plain is daar min Cata- en Codeta-taxi’s en ’n beperkte busdiens. Busdienste is ook beperk in Guguletu, met geen minibustaxi’s wat daar werk nie. Dieselfde situasie as in Mitchells Plain geld ook in Parow. In Durbanville, Wallacedene en Bloekombos is daar geen minibustaxi’s wat werk nie. In Nyanga is daar beperkte busse met pendelaars wat voor die polisiekantoor opgelaai word.

Meer oor:  Taxigeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.