Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tazne: ‘Hoeveel kindertjies nog?’ vra pa se tannie

Terrence Manuel (31) en Carmen van Wyk (28), die ouers van die agtjarige Tazne van Wyk, se lewe het Donderdagoggend tot stilstand geruk.

Die ouerpaar is kort ná 07:00 deur speurders verbonde aan die Ravensmead-polisiekantoor ingelig dat hul oudste dogter se lyk in ’n stormwaterdrein langs die N1 buite Worcester gevind is.

’n Lykskouing is Donderdag gedoen om uit te vind wat die oorsaak van haar dood is en hoe lank sy al dood is.

Van Wyk en Manuel is kort nadat hulle die tyding ontvang het, vir mediese hulp na die daghospitaal in Elsiesrivier geneem.

Manuel het kort voor 10:00 weer na sy ouerhuis teruggekeer. Van Wyk is egter onder verdowing geplaas nadat sy siek geword het. Sy is steeds in die hospitaal.

Manuel wou nie Donderdag met die media praat nie. Die spraaksame pa van Maandag het net stil voor hom uitgestaar. Sy oë dof, rooi gehuil en vol trane waar hy sit op die bank in die wendyhuis wat hy en Carmen met hul dogters deel. Iemand het ’n kers aangesteek. Die lig weerkaats saggies op ’n foto van Tazne wat in die kombuiskas regop staan.

’n Foto van Tazne van Wyk is teen ’n muur in haar oumagrootjie se sitkamer opgeplak. Foto: Jaco Marais

Paramedici word na die huis ontbied toe dit lyk asof Manuel ook siek gaan word. Hy word behandel en word by die hoofhuis op die erf ingelei deur sy ma, Theresa Manuel, en sy tannie, Samantha Viljoen.

Theresa is kwaad, seer en baie hartseer.

Sy sê aan die media dit is nie reg om nou vir die familie te vra hoe hulle voel nie. “Ek het al ’n seun aan die dood af(gestaan) en nou ’n kleinkind. Hoe dink julle moet ons voel?”

Sy wil hê daar moet ’n voorbeeld in die gemeenskap gemaak word van Moyhdine Pangarker, haar kleinkind se vermeende ontvoerder en moordenaar.

Theresa Manuel, Tazne se ouma, haar pa, Terrence Manuel, en sy tannie, Samantha Viljoen, Donderdag in Connaught Estate, Elsiesrivier. Manuel was Donderdag nog te getraumatiseerd om met die media te praat. Foto: Jaco Marais

Viljoen sê Tazne se moord kon verhoed gewees het. “Hoeveel kindertjies nou nog? Hoekom bring hulle nie die death penatly in nie? Dis wat ons as ouers nie verstaan nie.

“Jou kinders mag nie buite speel nie. Moet die kinders nou so opgroei?

“Die kinders verstaan nie wat aangaan nie. Ons moet ons kinders in die huis hou. Dit is nie reg nie, maar hy gaan nou ’n lekker lewe het. Ons werk nou vir hom, die een wat onse kinders doodgemaak het. Wie kom Desember uit? Nog ’n spannetjie, mnr. die president?”

Tazne se lyk is Woensdag net ná 23:00 deur die polisie in ’n stormwaterdrein langs die N1 buite Worcester gekry.

Pangarker is Maandag in Cradock in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die landdroshof daar op ’n aanklag van ontvoering verskyn. Hy het die polisie Woensdagaand geneem na die gebied waar hy na bewering die lyk gaan stort het.

Pangarker verskyn Vrydag in die landdroshof in Goodwood op aanklagte van ontvoering en moord. Nog aanklagte kan bygevoeg word, sê kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder.

Meer oor:  Moyhdine Pangarker  |  Tazne Van Wyk  |  Worcester  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.