Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tazne is dood; hoeveel kinders gaan nog sterf?

“Hoeveel kindertjies nou nog?”

Dit was Donderdag die vraag op die lippe van Samantha Viljoen, tannie van die vermoorde Tazne van Wyk (8) se pa, Terrence Manuel (31).

Theresa Manuel, Tazne se ouma, haar pa, Terrence Manuel, en sy tannie, Samantha Viljoen, Donderdag in Connaught Estate, Elsiesrivier. Manuel was Donderdag nog te getraumatiseerd om met die media te praat. Foto: Jaco Marais

Die familie het Donderdag gehoor Tazne se lyk is in ’n stormwaterdrein langs die N1 buite Worcester gevind. Sy was sedert 7 Februarie vermis.

Viljoen wou in ’n onderhoud met die media weet hoekom die doodsvonnis nie teruggebring word nie.

“Dis wat ons as ouers nie verstaan nie. Jou kinders mag nie buite speel nie. Moet die kinders nou so opgroei?

“Die kinders verstaan nie wat aangaan nie. Ons moet ons kinders in die huis hou. Dit is nie reg nie, maar hy gaan nou ’n lekker lewe het. Ons werk nou vir hom, die een wat onse kinders doodgemaak het. Wie kom Desember uit? Nog ’n spannetjie, mnr. die president?”

Viljoen verwys na Moyhdine Pangarker (54), wat Maandag in Cradock in die Oos-Kaap in verband met Tazne se ontvoering in hegtenis geneem is. Hy het die polisie Woensdagaand gaan wys waar haar lyk in ’n stormwaterdrein gelos is.

Buite Tazne se ouerhuis in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier in Kaapstad, het hartseertonele hulle Donderdag afgespeel nadat inwoners gehoor het dat haar lyk gevind is.

Manuel en Carmen van Wyk, Tazne se ma, is kort ná 07:00 deur die Ravensmead-polisie ingelig dat hul kind se lyk gevind is. Hulle is onmiddellik deur beraders bygestaan en daarna na die plaaslike daghospitaal geneem waar Van Wyk opgeneem is. Manuel het later alleen na die huis teruggekeer.

Manuel se ma, Theresa Manuel, het gesê sy is kwaad, seer en baie hartseer. Sy het aan die media gesê dit is nie reg om nou vir die familie te vra hoe hulle voel nie. “Ek het al ’n seun aan die dood af(gestaan) en nou ’n kleinkind. Hoe dink julle moet ons voel?”

Die huiswinkel waarvandaan Tazne van Wyk weggelok is. Foto: Jaco Marais
Jo-Anne October met die kopdoek, ’n inwoner van Clarestraat en buurvrou van Tazne van Wyk se ouers, het Donderdag gesê haar dogter was ook amper ’n slagoffer van Moyhdine Pangarker. Sy beweer hy was in haar huis en wou met die trappe opgaan na haar slaapkamergedeelte op die boonste verdieping waar die meisie geslaap het. Foto: Jaco Marais

Sy wil hê daar moet ’n voorbeeld van Pangarker gemaak word.

Intussen het ’n selfoongesprek tussen Pangarker en ’n familielid, glo sy suster Nasma, Donderdag uitgelek.

In die gesprek ontken hy dat hy vir Tazne ontvoer het.

Hy sê hy het Tazne die Vrydag toe sy weggeraak het by die huiswinkel naby haar ouerhuis in Clarestraat gesien.

Hy sê sy het daar gesit en ’n “bompie” (vrugtesapysie) gedrink. Hy het glo weggekyk en toe hy terugdraai, was sy weg.

Sy suster sê dan in die opname vir hom die eienaar van die huiswinkel het glo aan die polisie gesê hy (Pangarker) het vir Tazne gesê sy moet die “bompie” opdrink en dat hy (Pangarker) daarna saam met haar daar weggeloop het.

Hy ontken alles in die oproep en vra sy suster: “Wat moet ek met die kind maak?”

Sy suster vra hom herhaaldelik in die gesprek om vir haar te sê waar hy is, maar hy antwoord haar nie. Op ’n keer sê hy net dat hy ver weg is. Sy sê ook vir hom die polisie het haar huis en dié van ander mense verskeie kere deurgesoek en sy wil net weet waar hy is sodat sy met ’n geruste hart kan slaap. “Ek sal jou nie verraai nie. Ek is dan jou suster. Jy weet watter bond ons het,” sê Nasma dan vir hom.

Steeds antwoord hy haar nie.

Pangarker het Dinsdag in die landdroshof in Cradock op ’n aanklag van ontvoering verskyn. Hy verskyn Vrydag in die landdroshof in Goodwood op aanklagte van ontvoering en moord. Nog aanklagte kan bygevoeg word.

Eerw. Chris Nissen van die Menseregtekommissie Donderdag in Clarestraat. Hy sê dit is tyd dat die verskillende regeringsfere, nasionaal en plaaslik, hande vat en daadwerklik begin werk om die epidemie van geweld teen vroue en kinders hok te slaan. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Moyhdine Pangarker  |  Tazne Van Wyk  |  Worcester  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.