Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tazne: ‘Jy kon haar net gelos het’

Die man wat die agtjarige Tazne van Wyk van die Kaapse Vlakte glo ontvoer en vermoor het, het sy eie tweejarige kind oor ’n tydperk van maande so erg aangerand dat die seuntjie dood is.

Terence Manuel en Carmen van Wyk, ouers van Tazne van Wyk. Foto’s: Edrea du Toit

Moyhdine Pangarker (54) het sy naamgenoot in 2001 uit die ma se huis in Ladismith ontvoer.

Tussen April en Junie 2001 het hy hom herhaaldelik mishandel, en met ’n lyfband, of met die plathand teen die kop geslaan.

Op 15 Junie daardie jaar is klein Moyhdine aan sy beserings dood.

Nadat Pangarker eers van moord aangekla is, is hy skuldig bevind aan strafbare manslag en menseroof.

Hy het agt jaar van ’n tienjaarvonnis uitgedien voordat hy in Oktober 2016 op parool vrygelaat is. Hy moes vir die duur van sy parool in Ladismith bly, maar het later in die Elsiesrivier-omgewing by sy swaer kom bly.

‘Sy wou by Shoprite werk, vir die tjoklits.’

Tazne se ouers, Terence Manuel en Carmen van Wyk, woon in ’n wendy-huis voor ’n munisipale woonstelgebou in Dark City, soos die straatblok in die Connaught-buurt naby Elsiesrivier bekend staan.

Vanaf die voordeur kan mens die huiswinkel in die liggroen woonstel sien waar Tazne laas op 7 Februarie lewend gesien is. In dié woonstel het Pangarker nou en dan by sy swaer gewoon.

Manuel sê die laaste keer toe hy vir Tazne gesien het, het hy haar gevra: “ ‘Mummy, waar gan djy nou?’ Toe skrie sy: ‘Ek gaan twee fivebob entjies koop!’ Toe’t ek gedink dis vir haar ouma. Man, toe’s dit vi’ daai gemors . . .”

’n Dag voor haar verdwyning het die departement van korrektiewe dienste (DKD) Pangarker tot ’n droster verklaar omdat hulle hom verskeie keer sonder sukses in die Suid-Kaap gaan soek het.

Die liggroen woonplek (links) van die beskuldigde en regs die wendyhuis waar Tazne van Wyk by haar ouers gewoon het. Foto: Edrea du Toit

Sy misdaadgeskiedenis strek sover terug as 1981 en sluit klagte van strafbare manslag, motordiefstal, diefstal, aanranding, kinderverwaarlosing en huisbraak in.

Tydens sy verskyning in die landdroshof in Goodwood Vrydag het algehele pandemonium losgebars. ’n Woedende skare het ’n hek by die hof afgeruk en polisieversterkings is inderhaas ingeroep. Plakkate het ontevredenheid oor parool vir “misdadigers” uitgebasuin.

’n Huis in Parow, waar Pangarker Tazne glo drie dae lank aangehou het, is aan die brand gesteek. Die gemeenskap noem dit ’n “hoerhuis”.

’n Groep mans het ook ’n motor met brute krag omgegooi en aan die brand gesteek.

Tazne van Wyk (8)

Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, het aan The Citizen gesê van die meer as 75 000 mense op parool pleeg minder as 23% weer ’n misdaad.

Dit help Tazne se ouers nie.

Manuel sê hy wil by haar moordenaar weet: “Wat het deur jou brein gegaan? Jy kon Tazne mos net gelos het op ’n plek en gesê het: ‘Daar is julle kind.’ Al het jy wat gedoen aan haar, man. Hoekom moet jy vir haar doodmaak, man? Hoekom?”

Einde verlede jaar het Tazne se ouers haar na ’n laerskool nader aan haar ouerhuis geskuif – “oor die gangsterism, dat sy veiliger is en hier . . . word sy vermoor”, sê Manuel. Hy wip na die voorste punt van die rusbank.

“Tazne het gesê sy wou hier by haar darra en mammie skoolgaan, want hier is dit mos saferer, cause hier’s mos polisie en soe, man,” sê Manuel.

“Sy’t gesê gangsters hardloop sommer daar deur die skool en klaskamers.

“Dis nie lekker nie . . .

“Sy was ’n baie ordentlike meisie, sy was respectable.”

Moyhdine Pangarker

Van Wyk sê haar dogter het leadership qualities gehad. “Haar juffrou wat haar maar kort geken het, het dit gesê. Die hele skool was getraumatise.

“Sy was die oudste van drie meisies. Tazne wou eendag by Shoprite werk, want sy sê daar is baie tjoklits.”

Manuel sê sy dogter was nooit onbeskof nie. “Sy was ’n voorbeeld vir haar twee susters en die kinders hier rond, verstaan u. Sy het al agt diplomas in die skool gekry.

“Sy het dit nie verdien nie. Kyk, ons is nie perfect nie, maar ons kinders het ons perfect grootgemaak. Wat ons nie gehad het nie, het ons gegee vir haar, vi’ almal ons kinders. Dirty hands bring clean money . . . totdat sy agt jaar is en ’n monster kom en vat daai weg van ons af. Wat onaanvaarbaar is. Verstaan jy?”

Oor Pangarker sê Manuel: “Ons het hom gesien as ’n mens, ons het nog nie geweet van sy background nie.

“Hy het ’n paar maande teruggekom, wat hy ge-release is uit die tronk. Hy was so slim. Kyk hier, hy het dit soe gedoen. Die tronke is om vir jou te straf, maar vi’ hom is dit ’n luxury. Hy kry kos, ’n comfortable bed . . .”

Van Wyk voeg by: “Die president moet kyk na dit.”

Pangarker is Maandag in Cradock in hegtenis geneem. Woensdag het hy die plek naby Worcester gaan uitwys waar Tazne se deels ontbinde lyk in ’n stormwaterpyp langs die N2 was. Op die gras langs die gat is bloedspatsels opgemerk. Leë Coke-, vrugtesap- en waterbottels is daar gevind.

Tazne se ouers weet nie hoe hul dogter in Worcester beland het nie.

“Daai’s wat ons wil weet, ook hoe hy in Cradock gekom het,” sê Manuel.

Oor die publiek se woede teenoor die politici en die polisie sê Manuel hy wil nie dinge sê “wat môre-oormôre teen my gaan tel nie. Verstaan. As ons miskien ’n spokesperson het, wat presies kan weet wat om te sê. Daar’s klomp complaints wat ek het.”

Sy vrou stem saam. “Kyk daar is baie vrae, maar ons moet eers wag, dinge uitsort.”

Manuel sê hy het ’n belangrike boodskap vir ouers: “Ouers, staan saam met mekaar. Hou mekaar se kinders dop. Moenie van jou kind ’n groot iets maak en van ander se kind niks dink nie.”

Nadat Tazne vermis geraak het, het inwoners van Dark City drie dae lank oral na haar gesoek.

“Die mense by die groen huis het niks kom help met ’n search nie,” sê Manuel. “Daar het hul suster vir hulle gesê hulle móénie daai man slaapplek gee nie. Hulle het nie geluister nie. Húlle is nou kwaad vir ons!”

Volgens die ouers moet hulle nog Tazne se lyk gaan uitken. Eers dan sal hulle die begrafnis kan reël.

The Pink Ladies, ’n organisasie wat na vermiste persone help soek, het gister in ’n park stringe kinders uit die Dark City-buurt se persoonlike inligting op ’n datastelsel geplaas. Helpers het kinders geweeg en gemeet hoe lank hulle is, terwyl ouers en voogde vorms ingevul het.

Want geen ma of pa wil hê dit wat met Tazne van Wyk gebeur het, moet met hul kind gebeur nie.

Meer oor:  Moyhdine Pangarker  |  Tazne Van Wyk  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.