Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Te min skuldig bevind vir ontvoerings in W-Kaap – LUR

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die min skuldigbevindings vir ontvoerings in die provinsie veroordeel.

Fritz het Dinsdag bevestig dat die polisie hom in kennis gestel het dat die getal skuldigbevindings vir ontvoering van 80 in die boekjaar 2015-’16 tot 12 in 2018-’19 gedaal het.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Peter Abrahams/Son

In dieselfde tydperk het die ontvoerings wat aangemeld is van 767 in 2015-’16 tot 681 in 2018-’19 afgeneem, lui Fritz se verklaring.

“Terwyl die getal skuldigbevindings skokkend laag is in vergelyking met die getal sake en inhegtenisnemings, sien ons ook ’n afname op ’n jaargrondslag in die getal skuldigbevindings. Dit is ’n bedreiging vir die veiligheid van inwoners, want die skuldiges loop vry tussen kwesbare mense rond.”

Hy het die inligting van die polisie versoek nadat Mesuli Kama, ANC-lid van die Wes-Kaapse wetgewer, in September ’n geskrewe vraag aan hom ingedien het.

In die boekjaar 2015-’16 is 767 ontvoeringsake aangemeld, met 471 inhegtenisnemings en 80 skuldigbevindings. In 2016-’17 het dit afgeneem tot 616 sake, 366 inhegtenisnemings en 44 skuldigbevindings.

In die afgelope twee boekjare het die getal ontvoeringsake en inhegtenisnemings toegeneem, maar die skuldigbevindings het verder gedaal.

Altesaam 662 ontvoerings is in 2017-’18 aangemeld, met 400 inhegtenisnemings en 36 skuldigbevindings.

In 2018-’19 was daar 681 sake en 402 inhegtenisnemings, maar slegs 12 skuldigbevindings.

Fritz sê die Wes-Kaap het 15 krisis- en onderhandelingspanne oor die provinsie heen, met 47 onderhandelaars wat opgelei is vir gyselaarsituasies.

“Hul werk is noodsaaklik en behoort nie in die wiele gery te word deur ’n lae koers van skuldigbevindings nie.”

Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, sê in die verklaring dat die getal kinderontvoerings “enige ouer, sowel as mense sonder kinders sal ontstel”.

“Hoewel dit in ’n oogwink kan gebeur, doen ons ’n beroep op alle Wes-Kapenaars om ekstra waaksaam te wees om hul kinders se veiligheid te verseker.”

Luidens die misdaadsyfers wat die polisie vanjaar bekend gemaak het, het die getal ontvoerings landwyd sedert die boekjaar 2016-’17 toegeneem.

Dit het gestyg van 4 991 sake in 2016-’17 tot 5 629 in 2017-’18 en 5 693 in 2018-’19.

Meer oor:  Albert Fritz  |  Skuldigbevinding  |  Misdaad  |  Ontvoerings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.