Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Huistender in Tzaneen bedrieglik verkry – SOE

Vervalste dokumente is ingedien om verlede jaar ’n tender van R15,3 miljoen by Limpopo se provinsiale regering vir die bou van sinkhuise in Tzaneen te kry, het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) bevind.

Die SOE het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy het in ’n ondersoek bevind dat die tender vir die Talana-behuisingsprojek bedrieglik verkry is.

Die projek moes behuising verskaf aan mense in digbevolkte informele nedersettings om aan die Covid-19-regulasies te voldoen wat ’n gesonde afstand betref.

Volgens die ondersoek het Limpopo se departement van samewerkende regering, behuising en tradisionele sake verlede jaar die Behuisingsontwikkelingsagentskap aangestel om die projek te voltooi.

Die Talana-behuisingsprojek in Tzaneen, Limpopo.

Die agentskap het die Aventino Group CC aangestel om die behuisingsprojek van 192 tydelike wooneenhede van R12,3 miljoen te voltooi. Later is nog ’n kontrak van R3 miljoen aan die Aventino Group CC toegeken om 152 puttoilette en drie watertenks, wat 10 000 liter berg, op te rig. Die kontrak het altesaam R15,3 miljoen beloop.

Inwoners van die Talana-behuisingsprojek het gekla nadat Stan Mathabatha, die premier, die sinkhutte in Julie verlede jaar aan hulle oorhandig het. Daar was geen lopende water of elektrisiteitstoevoer nie.

Die DA het verlede jaar ’n klagte by die openbare beskermer (OB) ingedien omdat die sinkhutte nie aan die voorgeskrewe ontwerp- en bouregulasies voldoen nie.

Ingevolge die kontrak moes tydelike behuising ook in uitbreiding 10 in Burgersfort opgerig word. Enkele van die wooneenhede was wel halfklaar.

Stan Mathabatha, premier van Limpopo,in Julie verlede jaar toe hy die Talana-behuisingsprojek in Tzaneen ingewy het.

Mathabatha het die SOE gevra om ’n ondersoek te doen.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, sê die Aventino Group CC het slegs 42 van die 192 sinkhutte opgerig en ’n rekening van R2,5 miljoen aan die regering gestuur.

Die Valke het Constance Mohlala (44), ’n direkteur van die maatskappy wat glo by die Talana-behuisingsprojek betrokke was, in Desember in hegtenis geneem. Die hofsaak sal later vanjaar in die landdroshof in Tzaneen voortgaan.

Kganyago het gesê ’n siviele saak is aan die gang om die R15,3 miljoen terug te kry.

Die SOE het die nasionale tesourie versoek om nie toe te laat dat die Aventino Group CC weer met die regering mag sake doen nie.

Die sinkhuise van die Talana-behuisingsprojek in Tzaneen.
Meer oor:  Tzaneen  |  Bedrieglik  |  Tender  |  Behuising
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.