Teresa Meyer (48) se seuns uit haar vorige huwelik het op twee roerende briewe afgekom wat hul ma vir hulle geskryf het voor haar en haar gesin se skietdood.
Dewald Coutts (27) het Vrydag gesê sy ma het vir hom en sy broer, Rian (24), briewe geskryf wat hulle in ’n kas in die Meyer-gesin se huis in Moorreesburg gekry het.

Teresa Meyer (middel) het twee briewe aan haar seuns uit ’n vorige huwelik, Rian Coutts (regs) en Dewald Coutts, in ’n kas in die Meyer-gesin se huis in Moorreesburg agtergelaat. Foto: Verskaf
Hy ontken dat dit selfmoordbriewe is.
Dewald sê hy weet nie wanneer sy ma die briewe geskryf het nie, maar dat sy die normale goed wat ander ma’s vir hul kinders sal sê, daarin geskryf het.
“Sy het gesê sy is lief vir ons,” sê hy.
Teresa, haar man, Luhan (58), en die egpaar se kinders, Lurese (12) en Luhann (10), se lyke is op 27 Junie met kopwonde in hul huis op die gasteplaas Keurbosfontein in die Cederberge buite Clanwilliam gekry waar hul sedert 18 Junie vakansie gehou het.
Hulle is almal met ’n .22-geweer geskiet.
Vroeër is berig plaaswerkers het bekommerd geraak toe hulle nie die gesin in die hande kon kry nie en het ondersoek gaan instel. Daar het hulle op die gesin se lyke afgekom wat al begin ontbind het, en die polisie is ontbied.
Die egpaar het op bedrogklagte van meer as R46 miljoen tereggestaan.

Teresa Meyer (48), haar man, Luhan (58), en hul twee kinders, Lurese (12) en Luhann (10), is in die skietvoorval dood. Foto: Verskaf

Die huis in Moorreesburg waar die seuns op die twee briewe afgekom het. Foto: Maygene de Wee