Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Terreur in Durban: Isis is betrokke

Die Valke se spesialistaakspan ondersoek ’n moontlike verband tussen die vermeende bomplanters wat Vrydag in Durban in hegtenis geneem is, die moord op die Britse Saunders-egpaar in KwaZulu-Natal vroeër vanjaar, en die onlangse inhegtenisneming in Rotterdam, Nederland, van ’n lid van die Islamistiese terreurgroep Isis.

Die Saunders-egpaar

Drie mans is Vrydag in Durban vasgetrek in verband met die plant van bomme in en om Durban tussen Maart en Augustus vanjaar. In Julie het fopoproepe oor bomme die kusstad ook op hol gehad en in ’n stadium was daar drie valse bomdreigemente op een dag in Durban. Die Phoenix-polisiekantoor, die Cornubia Mall en die Commercial City-gebou is ná dreigemente ontruim.

In Julie is ’n ploftoestel gevind in Woolworths in Durban se middestad, en in Augustus is nog ’n toestel in die Southgate-winkelsentrum gevind. In Mei is een man dood en twee beseer in ’n aanval by ’n moskee in Verulam.

Afpersing word vermoedelik in dié misdade gebruik – en in die geval van die Britse egpaar Rodney (74) en dr. Rachel Saunders (63) ook moord – om geld in die hande te kry, wat in kripto-geldeenhede soos bitcoin omgesit word vir Isis-aktiwiteite elders.

Genl. Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die inhegtenisneming van die drie mans in Durban aangekondig ná ’n deurtastende ondersoek deur ’n multi-dissiplinêre taakspan van die Valke, ander eenhede, die nasionale vervolgingsgesag en misdaad-intelligensie-spesialiste.

Volgens Cele was daar ’n verband tussen die Durbanse voorvalle en dat afpersing vermoedelik die motief was. In die geval van die Saunders-egpaar is meer as R700 000 uit hul bankrekenings gesteel. Fatima Patel (27), Sayefudeen del Vecchio (38) en ’n Malawiër, Ahmad Mussa, is vas weens dié moord nadat die Amerikaanse FBI die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste van inligting voorsien het. Die Britse polisiediens Scotland Yard het daarna ’n span kundiges na Suid-Afrika gestuur. Dié spanne werk sedertdien nou saam met die Valke se eenheid wat misdrywe teen die staat ondersoek.

Volgens Willem Els, teen-terreurkenner van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), is ’n Nederlandse djihadis, slegs bekend as “Mohammed G”, einde Augustus in Rotterdam vasgetrek. Hy het bitcoin met wyle Rachel Saunders se kredietkaartbesonderhede probeer koop. Luidens mediaberigte in Nederland het Mohammed G noue kontak met van Isis se topstrukture in Afrika gehad. Hy het ook kontak met twee van die verdagtes in die Saunders-moord gehad, asook met ’n Somaliese betrokkene.

“Kriptogeld word gebruik omdat daar geen spoor nagelaat word soos met bankoorplasings nie,” sê Els. “Wat nou belangrik is, is om al die los drade tussen al die lande se ondersoeke bymekaar te trek sodat die groter netwerk blootgelê kan word.”

Meer oor:  Rachel Saunders  |  Rodney Saunders  |  Bomplanters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.