Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Terug op sy pos ná hy tante vermoor

Die tuinier wat later sou bieg dat hy Dinsdag ’n bejaarde vrou in Carletonville met ’n hamer doodgeslaan het, het ’n dag ná die moord doodluiters by dieselfde ouetehuis ingestap om by ’n ander bejaarde tannie te gaan werk.

Miems Zondag is veral geskok oor Gibson Lion. “Hy werk al vyftien jaar vir my,” sê sy.Foto: Deon Raath

Gibson Zwelakhe Lion (46) het Vrydag in die landdroshof in Oberholzer, in Noordwes, verskyn weens die moord op Destiny Newberry (73), ’n inwoner van die Senatus-outehuis.

Hy het vir verskeie inwoners in dié tehuis gewerk.

Volgens Ronel Barnard, Newberry se dogter, het Lion ook voorheen by haar huis in Carletonville gewerk.

“My ma was altyd net goed vir hom,” sê sy. “Sy het gereeld vir hom gaan inkopies koop en hom by die vliegveld naby sy woonbuurt gaan aflaai. Dié week het hy glo vir haar gesê hy het ’n shortcut, ’n ander paadjie wat sy eerder moet saamry.”

Suzette Oosthuizen, die SAVF-streeksbestuurder.

Newberry is Dinsdagmiddag as vermis aangemeld en Woensdag is haar lyk deur verbygangers op daardie einste vliegveld gevind. Haar heldergroen Chevrolet Spark is later agter Lion se huis in Khutsong gevind.

Die polisie het gesukkel om Newberry uit te ken, so erg was die beserings wat met ’n hamer aan haar gesig toegedien is.

Die Woensdagoggend het Lion teruggekeer na Senatus en aan Celia Cree se deur geklop om in haar tuin te werk.

“Hy kom by my aan asof daar geen probleme is nie,” sê Cree aan Rapport. “Dit is só ontstellend.”

Celia Cree: “Dit is só ontstellend.”

Miems Zondag (82), ook van Senatus, is net so diep geskok, want Lion was ook haar tuinier.

“Hy werk al 15 jaar vir my,” sê sy. “Hy is ’n saggeaarde man wat baie swaarkry. As hy in die oggende by die ander dames moes werk, het hy altyd eers aan my deur kom klop om te vra hoe dit met my gaan. Hy los altyd sy rugsak voor my voordeur as hy by my of ander mense hier in die ouetehuis werk.

“Ek gee altyd vir hom kos, selfs op die dae wat hy nie vir my werk nie, want ek weet hy het nie kos by die huis nie. Hy is nie baie sterk nie, want hy is ’n vigslyer. Met sy siekte gaan hy nie baie lank oorleef as hy moet tronk toe gaan nie. Ek kon glad nie glo hy het die krag om iemand met ’n hamer dood te slaan nie. Toe moet ek by die polisie ’n ander storie hoor.”

Lion het nie Woensdag soos gebruiklik vir Zondag kom hallo sê nie, maar steeds sy sak voor haar deur gelos. Terwyl hy by Cree se huis was, het Zondag sy rugsak oopgemaak. Sy het Newberry se bestuurslisensie daarin gevind en dadelik lont geruik.

Vermoor: Destiny Newberry.

“Sy was reeds vermis en ek het geweet hy het die vorige dag by haar gewerk,” sê Zondag. “ ’n Klipgooi van my huis af.”

Suzette Oosthuizen, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se streeksbestuurder, sê Newberry was Lion besonder goedgesind.

“Die moord het nie in die ouetehuis gebeur nie,” sê sy. “Ons is baie streng op ons veiligheidsmaatreëls. Ons is beskermend teenoor ons inwoners, want hulle is kwesbaar.

“Maar van nou af kan ons glad nie meer toelaat dat enige bejaarde hier hul eie tuinier inbring nie. Ons gaan baie strenger wees, al het Gibson by verskeie inwoners gewerk.”

Volgens ao. Peter Masooa, ’n polisiewoordvoerder, het Lion Vrydag in die hof skuld erken. Masooa het alles bevestig wat die inwoners van Senatus aan Rapport vertel het.

Meer oor:  Moord  |  Tuinier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.