Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tiener aangeval, omgery toe hy in Pretoria gaan draf
Llewellyn Ferreira Donderdag. Sy arm is verbind waar hy skaafwonde opgedoen het toe een van die aanvallers hom omgery het. Foto: Verskaf

Llewellyn Ferreira (17) het gedink hy gaan net ’n paar keer om die blok draf, maar toe word dit ’n wedloop om sy lewe.

Twee mans in ’n wit Toyota Corolla het dié gr. 11-leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria Woensdag naby sy ouerhuis in Lynnwood Glen aangeval en omgery.

Llewellyn het Donderdag gesê hy was gelukkig om met net ernstige skrape aan veral sy regterarm, hande en gewrigte die gesin se huis veilig te bereik.

Hy speel hokkie en krieket en gaan draf gereeld ’n paar keer om die blok by hul huis in Kasteelstraat om fiks te bly. “Ek het Woensdag net voor 15:00 gaan draf. Met my tweede rondte om die blok in ’n stiller straat het die Toyota stadig verby my gery. Daar was ’n bestuurder en ’n passasier.”

Llewellyn sê hy was dadelik ongemaklik toe die man in die passasiersitplek omdraai en stip na hom staar.

“Die Toyota het om die volgende draai verdwyn. Ek vermoed hulle het ’n U-draai gemaak, want die motor het toe skielik weer teruggery. Die bestuurder het sy venster afgedraai en gevra: ‘Where is the exit to McDonald’s?’ Die volgende oomblik het die passasier uitgespring en vir my gekom.”

Llewellyn Ferreira in die gesin se erf nadat sy ouers die ambulans ontbied het. Foto: Verskaf

Llewellyn het toe laat spaander, maar daar was nog omtrent 150 m tussen hom en sy ouerhuis. Hy skat hy was sowat 40 m van die hek toe hy hoor die Toyota is naby hom. “Hulle het my teen die regterheup gestamp en toe val ek. Die bestuurder het nog ’n entjie aangery, weer gestop en toe klim die passasier uit. Ek het weer gehol. Gelukkig was die slot by die hek nie gesluit nie. Ek kon vinnig inkom voordat die passasier my inhaal. Die aanvallers het nie geweet my huis is so naby nie. Hulle het seker geskrik toe hulle sien ek gaan daar in, en het weggery.”

In die erf het Llewellyn na sy broer, Leighton (’n eerstejaarstudent) geroep. Leighton asook hul ouers, Antoinette en Theo, het uitgekom. Hoewel Llewellyn nie ernstig beseer is nie, het hulle veiligheidshalwe ’n ambulans ontbied. By die hospitaal is X-strale van Llewellyn geneem.

“Al wat ek tydens die aanval kon dink, is dat ek moet hol om ons hekkie te haal voordat hulle my kry. Ek was bang ek gaan dit nie maak nie,” sê Llewellyn.

Antoinette sê sy was asvaal geskrik. “Ek het al van die naweek af ’n voorgevoel gehad iets gaan gebeur en het selfs ’n vriendin gevra om vir ons te bid. Die aanval was ’n aanslag op Llewellyn se lewe en ’n groot skok.”

Paramedici het Woensdag Llewellyn Ferreira op ’n draagbaar gesit. Foto: Verskaf

Antoinette sê kinders oefen gereeld in die woonbuurt. “Moenie sonder ’n pepersproei gaan draf nie. Ons kinders raak te gemaklik. Oor die aanval op Llewellyn kan ons net bespiegel. Ons weet nie eintlik wat hul motief was nie, want hy het sy selfoon by hom gehad en hulle het dit nie gevat nie. Hulle wou hom moontlik ontvoer, maar ons weet ook nie hoekom nie.”

Die Ferreira-gesin was van plan om die voorval Donderdagmiddag by die polisie te gaan aanmeld.

Meer oor:  Pretoria  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.