Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Tiener’ gooi glo petrolbom na vragmotor
Die vragmotor is beskadig nadat dit glo met ’n petrolbom bestook is. Foto: Verskaf

’n Vragmotor is Donderdag in Motherwell in die Oos-Kaap beskadig nadat ’n tienerseun glo ’n petrolbom na die voertuig gegooi het.

Volgens ’n 36-jarige motoris van Uitenhage, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het hy sowat 100 m agter die vragmotor op die R335-pad gery.

Hy het gesien hoe die klippe skielik op die vragmotor “begin reën”. Die bestuurder het toe glo stilgehou en uit die voertuig geklim.

“Dit was ook net betyds, want kort daarna het ’n jong seun aangehardloop gekom en die vragmotor met ’n petrolbom gegooi,” sê die motoris.

Hy sê die vragmotor het dadelik aan die brand geslaan.

Pogings om by die brandblusser uit te kom was onsuksesvol, want die passasiersdeur kon weens die sluitstelsel nie oopmaak nie.

Die motoris en vragmotorbestuurder het op ’n afstand toegekyk hoe die vlamme die vragmotorkajuit verswelg en het die brandweer gebel.

“Van wat ek kon sien, was dit ’n klein groepie, seker so agt seuns, ek skat tussen 15 en 17 jaar oud, wat die klippe en petrolbom gegooi het,” sê die motoris.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die vragmotor omstreeks 14:00 met ’n brandende voorwerp bestook is. Volgens hom is niemand beseer nie.

Die polisie het ook inligting gekry dat jong kinders vir die voorval verantwoordelik is, maar Beetge sê hulle ondersoek die moontlikheid dat dit met ’n betoging vroeër die dag verband hou.

’n Brandbestryder op die R335 in Motherwell waar ’n vragmotor gebrand het. Foto: Verskaf

“ ’n Groep van sowat 200 inwoners van Ikamvelihle het omstreeks 11:00 voor die polisiekantoor betoog. Hulle groep het daarop aangedring dat ’n afgevaardigde van die metro hulle te woord staan,” sê Beetge.

Na verneem word hou die inwoners se griewe verband met behuisingsprobleme in die gebied.

Volgens Beetge is die groep uiteen, en het die betoging nie weer opgevlam nie.

“Daar was geen betogings toe die vragmotor aan die brand gesteek is nie, maar die polisie sal wel ondersoek of daar ’n verband tussen die voorvalle is.”

Die motoris meen daar is geen verband tussen die betoging en die petrolbomaanval nie.

“Dit was uit en uit ’n misdadige element wat na vore gekom het.”

Volgens die motoris was die eienaar van die vragmotor hewig ontsteld toe hy van die skade hoor. Die eienaar en sy gesin het die vragmotor blykbaar sowat twee maande gelede gekoop om private vervoerwerk van sitrus uit Addo te doen.

Beetge sê ’n saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Motherwell  |  Oos-Kaap  |  Misdaad  |  Vragmotor  |  Petrolbom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.