Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tiener vas ná dood van bekende Kaapse danser, choreograaf
Kirvan Fontein, bekende Kaapse danser en choreograaf, in aksie.Foto: Natalie Gabriels

Die wêreld van die uitvoerende kunste is in rou gedompel ná die dood van ’n bekende danser en choreograaf van Kaapstad.

Die polisie het Saterdag bevestig dat ’n 14-jarige meisie in hegtenis geneem is in verband met ’n voorval vroeg die oggend waarin Kirvan Fortuin (28) van Macassar doodgesteek is.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê Fortuin het onderweg na die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Verskeie mense uit die kuns- en vermaakwêreld en van die media het die oggend huldeblyke aan Fortuin op sosiale media geplaas.

Hy was ook bekend as ’n aktivis vir die regte van gay mense en gemarginaliseerde groepe.

In 2019 het hy die ministeriële prys van die provinsiale departement van kultuursake ontvang vir sy uitsonderlike bydrae tot die bewaring en bevordering van ’n inheemse kunsvorm.

Belinda Jackson, Marlene le Roux, “Ouma” Katrina Esau en Kirvan Fortuin.Foto: Verskaf

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap, het by navraag gesê Fortuin was soos ’n seun vir haar en sy het met hom begin werk as ’n klein seun in Macassar.

“Kirvan het ondanks al die uitdagings ’n beurs van die Universiteit van Kaapstad se dansskool ontvang en is toe deur die wêreldbekende Codarts-Universiteit in Rotterdam aanvaar.”

Volgens Le Roux het Fortuin toe as ’n danser bekendheid verwerf en met sy terugkeer na Suid-Afrika vir haar en Coenie de Villiers gehelp met die vervaardiging van die produksie Katrina: Die dansende taal.

“Ons het gewerk aan ’n nuwe produksie oor menslikheid, dat alle lewens saakmaak. En toe gebeur die inperkings. Ons het nog met die begin van Pride-maand saamgewerk.”

Die Kunstekaap het die oggend in ’n verklaring gesê Fortuin het pryse in Suid-Afrika, Nederland en Switserland ontvang en die Kirvan Fortuin-stigting en Fortuin-dansteater gestig.

“Hy het verskeie werksgeleenthede vir dansers en choreograwe oor Suid-Afrika heen geskep. Hy het voortdurend ons jeug aan dans blootgestel.”

Fortuin het gehelp om “grensverskuiwende” werke soos Katrina: Die dansende taal in die Kunstekaap aan te bied. Hy het die verhaal van ouma Katrina Esau, die laaste mens wat die inheemse taal N/UU vlot kon praat, met behulp van dans op die verhoog laat herleef, luidens die verklaring.

Die eerste vertoning was in September 2018.

“Hy is werklik ’n pionier in die nuwe wêreld van teater en dans, en het ’n nuwe weg gebaan vir jong kunstenaars, mense van kleur en queer mense.”

Meer oor:  Kirvan Fortuin  |  Danser  |  Makassar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.