Twee tieners wat ’n vragmotor in Mqanduli in die O.R. Tambo-distrik in die Oos-Kaap met ’n vuurwapen beroof het, het Dinsdag in die landdroshof n Mqanduli verskyn.
Kapt. Dineo Koena, polisiewoordvoerder, sê die twee 16-jarige seuns is Maandag omstreeks 15:30 in hegtenis geneem nadat hulle die bestuurder van die vragmotor, wat brood vervoer, met ’n vuurwapen gedreig en geld by hom geroof het.
Koena sê die vragmotor het brood van Jojweni na Mqanduli vervoer.
“Die bestuurder het by ’n winkel gestop waar hy brood moes aflaai toe die seuns hom nader, ’n vuurwapen op hom rig en geld eis.”

Die vuurwapen en ammunisie wat by die twee 16-jarige seuns gevind is, sowel as die geld wat hulle van ’n vragmotorbestuurder geroof het. Foto: SAPD
“Die seuns wou net geld hê. Hulle het nie enige van die brode gevat nie,” sê Koena.
Die polisie is in kennis gestel, waarna hulle die seuns by die winkel in hegtenis geneem het.
Die seuns het geld en ’n vuurwapen, asook twee patrone, in hul besit gehad.
Hulle het op aanklagte van roof, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie in die hof verskyn.