Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tikkiboo gevind ná dief haar per ongeluk steel
Tikkiboo binne in haar hokkie. Foto: Facebook

’n Vierjarige Yorkshire-terriër van Vishoek met die naam Tikkiboo was ’n hele nag sonder haar eienaar nadat ’n dief haar Maandag op die N2 uit ’n motor gesteel het.

Tikkiboo se eienaar, Terry Harwood, het die Nyanga-polisie bedank dat hulle gehelp het om haar hondjie veilig terug te besorg nadat die dief die hond per ongeluk gesteel het.

Harwood was Maandagoggend omstreeks 6:30 op die N2 op pad lughawe toe met twee passasiers toe twee diewe twee ruite van Harwood se bakkie uitslaan. Een dief het haar passasier se handsak probeer steel, maar die vrou het sy hand gegryp en sy vinger gebyt.

Die ander dief het ’n rooi hokkie wat gebruik word om diere mee te vervoer en waarin Tikkiboo gesit het, van die agtersitplek af gegryp.

Vanweë haar grootte het die dief haar nie raakgesien in die hokkie nie en met haar weggehardloop. “Hy het seker gedink dit is ’n reistas of iets met klere en goed in,” sê Harwood.

“Ek was só magteloos. Ek kon nie uitklim en agterna hardloop nie want dit is te gevaarlik. Ek ry toe maar met my passasiers na die lughawe en laai hulle af. Toe gaan meld ek dit aan by die polisie in Pinelands omdat ek nie gereed was om terug te gaan Nyanga toe met twee gebreekte ruite nie.”

Tikkiboo
Die hokkie waarin Tikkiboo was toe sy gesteel is. Foto: Facebook

Harwood se dogter, Lynette, en skoondogter Jenna het op sosiale media gewoeker om mense te laat weet dat Tikkiboo vermis word en dat hulle op die uitkyk moet wees vir die hondjie. “Sy weeg maar 1,8 kg en is baie geheg aan my,” sê Harwood.

Maandagaand het Harwood gaan slaap sonder Tikkiboo aan haar sy. “Dit was een van die swaarste dinge nog ooit. Ek het haar so gemis, en wat dit erger maak is dat ek nie weet waar sy is nie. Ek en almal om my het hard vir haar gebid.”

Dinsdag het die Nyanga-polisie Harwood se verklaring vanaf Pinelands ontvang en die beamptes wat dit deurgelees het, het besef dat hulle die vorige dag ’n verdagte met ’n beseerde hand ingeneem het vir ondervraging.

Die beamptes het die verdagte en sy makker gaan soek en hulle gekry. Harwood sê sy weet nie of die mans vir die polisie gesê het waar Tikkiboo haar bevind nie, maar hulle het haar by die Nyanga-treinstasie gaan haal.

Hulle het my laat weet hulle het haar gekry en ek was so bly ek kon dit amper nie glo nie.
Terry Harwood
Terry Harwood druk Tikkiboo vas toe sy haar die eerste keer weer sien. Foto: Facebook
Terry Harwood en Tikkiboo nadat hulle herenig is.

“Sy het daar gelê nog in haar hokkie. Hulle het my laat weet hulle het haar gekry en ek was so bly ek kon dit amper nie glo nie.”

Harwood het steeds nie kans gesien om Nyanga toe te gaan nie. Vyf beamptes van die stasie het ingestem om haar by ’n nabygeleë vulstasie te ontmoet om haar met haar geliefde hond te herenig.

“Die emosie wat ek gevoel het kan ek nie met woorde beskryf nie. Ek was verlig, hartseer, bly en bekommerd, alles terselfdertyd. Ek weet nie waar sy die hele nag lank was nie, maar ek het haar net teen my vasgedruk. Ek het geruk soos ek huil.”

Harwood sê sy is baie dankbaar teenoor die Nyanga-polisie wat haar gehelp het om haar Tikkiboo veilig terug huis toe te bring.

Die polisie het by monde van ’n woordvoerder laat weet die verdagtes is ingebring vir ondervraging rondom motorkapings. Die ondersoek duur voort.

Meer oor:  N2  |  Kaapstad  |  Gesteel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.