Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
TLU SA: ‘70 plaasmoorde, nie 62’

TLU SA sê volgens sy statistieke was daar die afgelope finansiële jaar 70 plaasmoorde, terwyl die polisie sê daar was 62.

“Hierdie verskil van sowat 10%, sowel as die noodsaaklikheid om uit een mond te praat oor ’n onderwerp wat toenemende internasionale aandag trek, vereis konsolidasie,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA.

Die jongste misdaadstatistieke is Dinsdag bekend gemaak.

Kobus BreytenbachFoto: Argief

“TLU SA het etlike pogings aangewend om ’n afspraak met die minister van polisie (Bheki Cele) te maak om hierdie verskil en ander verbandhoudende kwessies met hom te bespreek, maar sonder enige konstruktiewe reaksie.

“Hierdie kwessie (wat ook van internasionale belang is) vereis gesamentlike en geïntegreerde optrede,” sê Meintjes.

Op sy beurt sê Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se komitee vir landelike veiligheid, as meer Suid-Afrikaners en internasionale rolspelers druk uitoefen, sal dit lei tot beter optrede om plaasmoorde en -aanvalle te voorkom.

Hy sê daar is te veel moorde en aanvalle op die boerderygemeenskap en dit is onaanvaarbaar.

Die regering en die publiek moet hiervan kennis neem, sê Breytenbach luidens ’n verklaring van Agri SA.

“Agri SA veroordeel ten sterkste die voortgesette geweld wat die boerderygemeenskap en mede-Suid-Afrikaners daagliks raak.”

Breytenbach sê dit is kommerwekkend dat daar die afgelope jaar (volgens die polisie se statistiek) 62 plaasmoorde was.

Willie ClackFoto: Sarel van der Walt

“Dit is 15 moorde meer as wat vroeër vanjaar in die parlement bekend gemaak is.”

Die Agri Securitas-trustfonds het volgens hom die laaste paar jaar meer as R10 miljoen aan plaasveiligheid en misdaadvoorkoming bygedra en duisende boere en plaaswerkers gehelp.

Breytenbach sê benewens die statistieke oor die moordsyfer wat toegeneem het, is dit opvallend dat die sogenaamde trio-misdade – huis-, sakerooftogte en motorkapings – die afgelope jaar afgeneem het.

“Dit is dié misdade waaraan die boerderygemeenskap die meeste blootgestel is. Dit raak die lewensbestaan van die mense wat in die landbou werksaam is, nadelig,” sê Breytenbach.

“Die vlakke van brutaliteit is te hoog en daadwerklike pogings, ondersteun deur intelligensie, moet reaksietye verbeter en plaasaanvalle voorkom.”

Louis MeintjesFoto: Cornel van Heerden

Agri SA het reeds ’n dringende versoek tot die minister van polisie gerig om dié kwessies en ander knelpunte te bespreek. Dit is in ’n poging om oplossings vir die geweldskultuur in ons boerderygebiede te vind.”

Willie Clack, wat aan Unisa se skool vir strafregpleging verbonde is, en ook die nasionale voorsitter van die veediefstal-voorkomingsforum is, sê die afgelope jaar is vee ter waarde van meer as R1,2 miljard gesteel.

Hiervan is R345 miljoen s’n teruggekry.

“Oor die laaste vyf jaar het die geldwaarde van vee wat gesteel is, met R500 miljoen toegeneem.”

Clack sê een van die grootste mites in die strafregstelsel is dat die polisie misdaad kan voorkom.

“Daarom is dit belangrik dat voorkomingsforums oordeelkundig ingespan moet word om die landbousektor oor die algemeen en rooivleisprodusente in besonder te beskerm,” sê Clack.

Meer oor:  Tlu Sa  |  Agri Sa  |  Louis Meintjes  |  Plaasmoorde  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.